Nuus 18:00
BULLETIN 5 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die gewese LP, Vincent Smith is gevonnis tot sewe jaar vir Bosasa-bedrog
# Forum for South Africa sê godsdiensvryheid is ononderhandelbaar
# En, die Soil of Africa-beweging verwelkom plasing van oorblywende graad-een en graad-agt leerders in Gauteng
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die gewese parlementslid Vincent Smith ‘n vonnis van sewe jaar opgelê na ‘n pleitooreenkoms met die staat. Die aanklagte van korrupsie en bedrog hou verband met gunslone wat hy van Bosasa ontvang het. Smith het ook nagelaat om sowat 28-miljoen-rand se belasbare inkomste van Euroblitz 48 te verklaar as alleen-direkteur en aandeelhouer. Hy het skuld erken aan bedrog, geldwassery en oortreding van die Belastingwet. Smith is 12 jaar opgelê op elk van die aanklagte, waarvan vyf jaar opgeskort is. Regter Mahomed Ismael het in sy vonnisoplegging gesê korrupsie vereis beslissende optrede.
# Die Forum for South Africa verwerp alle pogings om met godsdiens in te meng of enige geloof te teiken. Dit volg op onlangse kommentaar deur die voorsitter van die Kommissie vir die Regte van Kultuur-, Godsdienstige en Taalgemeenskappe, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, wat die debat oor die regulering van godsdiens weer aangewakker het. FOSA se leier Tebogo Mashilompane, sê die Grondwet beskerm die reg om enige geloof te beoefen sonder vrees vir staatsinmenging:
# Die Soil of Africa-beweging het die plasing verwelkom van alle graad 1- en 8-leerders wat deur vanjaar se aanlyn toelatingstelsel in Gauteng aansoek gedoen het. Altesaam 392-duisend-224 leerders in die twee grade is vir hierdie akademiese jaar deur die aanlyn stelsel geplaas. Die beweging se voorsitter, Bongani Ramontja, verwelkom ook die aankondiging dat skole toepaslike inhaalplanne sal instel om leerders te help om verlore leerplan-tyd in te haal:
# Showmax gaan uitfaseer word in Suid-Afrika ná ‘n hersiening van Multichoice se stroombedrywighede nadat Canal-Plus (Ploes) oorgeneem het. Multichoice noem onvolhoubare jaarlikse verliese en ‘n fokus op finansiële dissipline. Die sluiting behels nie afleggings nie en personeel word ondersteun deur oorgangskeuses. Canal-Plus beplan om sy eie platform van stapel te stuur, met die belofte van voorkeur-inhoud, tegnologiese vernuwing en uitgebreide dienste vir Afrika- en internasionale gehore.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown glo die All Blacks sal vanjaar baie goed wees met Dave Rennie wat Scott Robertson as hoofafrigter opvolg. Die Nieu-Seelander dink die Kiwi’s sal onder Rennie ‘n gedugte krag wees. Rennie het nie ‘n baie goeie wenrekord gehad as afrigter van die Wallabies van 2020 tot 2023 nie. Hy het egter die Chiefs in 2012 en 2013 na agtereenvolgende Superrugby-titels gelei. Brown het homself intussen tot Suid-Afrikaanse rugby verbind tot ná volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-593-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-108-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….