Nuus 09:00
BULLETIN 26 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dien ‘n amptelike klag teen WesBank by die Menseregtekommissie in
# Die wind belemmer pogings om ‘n ernstige brand naby Kluitjieskraal in die Wes-Kaap onder beheer te bring
# En, Alabama voer die eerste teregstelling met stikstofgas in Amerika uit
# ActionSA sê hy het ‘n amptelike klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien om WesBank te ondersoek na bewerings dat swart kliënte volgens ʼn spesifieke stelsel te veel betaal. Wesbank verwerp bewerings van diskriminasie teen klante op grond van ras, geslag of ouderdom. ActionSA se woordvoerder, Lerato Ngobeni, sê hulle kan nie die bank se bedekte rassisme verdra nie:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ʼn ondersoek begin na bewerings dat sekere bestuurders van Transnet se nasionale hawe-owerheid verkrygingsprosesse ignoreer. Die hawe-owerheid se uitvoerende hoof, Pepi Silinga, word beskuldig dat hy sy voormalige werkgewer, die Coega Development Corporation, onregmatig aangestel het om heinings rondom die hawens by Durban, Richardsbaai en Saldanhabaai op te rig. Die koste het volgens berigte van sowat 80-miljoen-rand opgeskiet na ongeveer 300-miljoen-rand. Transnet het ʼn onafhanklike regsfirma aangestel om die bewerings in diepte te ondersoek.
# ʼn Verandering in windrigting belemmer pogings om die Kluitjieskraal-brand naby Wolseley in die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit te beheer. Die brand in die Suurvlakte-area het in twee rigtings verdeel: een aan die Wolseley-kant van die Obiekwa-berge en nog een aan die Wellington-kant. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brand aan Wolseley se kant in die Verrekyker-gebied net bokant Kluitjieskraal het vinnig in die rigting van landbougrond beweeg waar ʼn verskeidenheid strukture soos formele en informele behuising is:
# Alabama het die eerste teregstelling in Amerika uitgevoer waar stikstofgas gebruik is. Die 58-jarige Kenneth Smith is ter dood veroordeel weens sy rol in ʼn huurmoord in 1988. Die staat se eerste poging om hom met ʼn dodelike inspuiting tereg te stel, het in 2022 misluk. Die hoogste hof het Smith se poging om teen die teregstelling te appelleer van die hand gewys. Alabama en twee ander Amerikaanse state het die gebruik van stikstof-hipoksie as alternatiewe teregstellingsmetode goedgekeur. Die Verenigde Nasies se hoë kommissaris van menseregte sê om Smith op hierdie manier tereg te stel kom neer op marteling.
# Motorsport: Charles Leclerc het ʼn kontrak met Ferrari onderteken dat hy ná die huidige Formule Een-seisoen by Ferrari sal aanbly. Die lengte van die nuwe kontrak is egter nie bevestig nie. Hy het in 2016 by die Scuderia aangesluit as akademie-bestuurder en sy F1-debuut in 2018 by Sauber gemaak. Sedert hy in 2018 by Ferrari se F1-span aangesluit het, het Leclerc 23 voorste wegspringplekke en vyf oorwinnings behaal. Sy spanmaat, die Spanjaard Carlos Sainz, onderhandel steeds oor ʼn nuwe ooreenkoms aangesien sy kontrak aan die einde van die jaar verstryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-154-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….