Nuus 16:00
BULLETIN 5 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul O’Sullivan word ondervra oor sy fokus op Phahlane en nie Khan nie
# Die NVG teiken 270 mense betrek by korrupsie in die watersektor
# En motorsport: F1-spanne is gespanne oor die groot aantal tegniese veranderings aan motors
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan is in die Parlement gevra waarom hy op die voormalige nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, gefokus het terwyl hy nie die voorste polisielid, Feroz Khan, volledig ondersoek het nie. Die MK-party se LP, Crossby Shongwe, het Khan beskuldig dat hy beskerm word ondanks winsgewende franchises wat hy as ‘n staatsamptenaar in wetstoepassing besit. O’Sullivan sê sy ondersoeke is gelei deur beperkte hulpbronne:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, sê beslissende stappe sal gedoen word teen 270 mense wat betrek word by korrupsie in die watersektor. Hy het op die watersektor-teenkorrupsie-forum in Pretoria sy samewerking met die Spesiale Ondersoekeenheid uitgelig om bates te herwin, en beloof vervolging en bateverbeuring. Mothibi beklemtoon die noodsaaklikheid om infrastruktuur-lekkasies te herstel en georganiseerde misdaad soos watertenk-mafias aan te pak om openbare hulpbronne te beskerm:
# Die Stad Kaapstad vra sy raad se ondersteuning om twee nuwe natuurreservate in die Helderberg-omgewing te vestig en vyf bestaande reservate uit te brei. Dit sal die reservate wat die stad reeds bestuur, met 950 hektaar vergroot. Die onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en die Omgewing, Eddie Andrews, sê natuurreservate speel ’n belangrike rol in die bewaring van unieke bioverskeidenheid en ekostelsels:
Nuus uit die buiteland:
# China het sy laagste ekonomiese groeiteiken sedert 1991 vasgestel, met die doel om vanjaar ‘n groeikoers van 4,5- tot vyf-persent te bereik. Hierdie matige vooruitskatting volg ná drie agtereenvolgende jare met ‘n mikpunt van ongeveer vyf-persent groei tussen 2023 en 2025. Die effense vermindering in die groeiteiken word toegeskryf aan die behoefte om strukturele uitdagings soos verswakte verbruik, eiendomsinstorting, ‘n plaaslike skuldkrisis, ‘n ouerwordende bevolking en hoë jeugwerkloosheid aan te pak. Eerste minister Li Qiang erken die binnelandse ekonomie is steeds vasgevang in diepgewortelde strukturele probleme.
# Motorsport: ‘n Nuwe era begin die naweek in Formule Een wanneer spanne op die Australiese Grand Prix die eerste keer die onbekende betree met ingrypende tegniese veranderinge. F1 het die eerste keer in dekades gelyktydig die onderstel- en krageenheid-regulasies hersien, wat ‘n uitdaging vir bestuurders en ingenieurs inhou. Meer krag sal deur elektrisiteit opgewek word en daar is meer klem op renjaers om takties te wees met die aanwending van energie. Sommige bestuurders is gemaklik met die veranderinge, maar ander sê daar is steeds baie onsekerheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-897-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-165-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….