Nuus 13:00
BULLETIN 5 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak van poging tot moord teen Mugabe se seun word uitgestel ná ‘n kragonderbreking
# Die DA striem die regering wat Russiese inmenging in Suid-Afrikaanse demokrasie beskerm
# En rugby: Hanro Liebenberg keer terug na die Bulle ná sewe jaar by Leicester Tigers
# Die saak van poging tot moord teen die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun, Bellarmine, en Tobias Matonhodze is tot Woensdag uitgestel ná ‘n kragonderbreking in die Landdroshof in Alexandra, Johannesburg. Die twee is in hegtenis geneem ná ‘n skietvoorval by hul woning in Hydepark. Die verdediging se advokaat, Sinenhlanhla Mnguni, sê opdragte van hul kliënte is hangende, met die voortdurende kragkrisis wat vordering in die borgtogaansoek beïnvloed:
# Die DA sê die ANC moet die grondwetlike beginsels van vryheid, demokrasie en menseregte toepas en terselfdertyd vooruitstrewende handelsverhoudings en ekonomiese groei verseker. Die Instituut vir Sekerheidstudies se studie, en internasionale joernaliste in besit van uitgelekte dokumente, gee besonderhede oor Russiese Buitelandse Intelligensiedienste wat geteikende kuberaanvalle en waninligtings-veldtogte teen Suid-Afrikaanse opposisiepartye voer. Ryan Smith van die DA sê dis ’n aanval op die land se nasionale veiligheid:
# Sowat 300-duisend Britte is steeds in gebiede wat deur die toenemende konflik in die Midde-Ooste geraak word. Volgens Sky News het die eerste vlug wat die Britse regering gereël het vir burgers wat die streek wou verlaat, nie volgens plan opgestyg nie en sal nou eers vandag uit die Omaanse hoofstad, Muscat, vertrek. Die stad is toeganklik uit plekke soos Dubai en Abu Dhabi en is ‘n sleutelpunt vir mense wat probeer wegkom. Minstens 168-duisend Britte het hul teenwoordigheid in die streek geregistreer.
# Rugby: Die voormalige Junior Springbok-kaptein Hanro Liebenberg keer volgende seisoen terug na die Bulle ná sewe jaar by die Engelse span Leicester Tigers. Die 30-jarige veelsydige losvoorspeler het van 2015 tot 2019 in Pretoria gespeel voor hy oorsee is, waar hy 145 keer vir die Tigers uitgedraf het. Die Bulle se uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, het Liebenberg se werksetiek en leierskap geprys. Hy sê dit is ‘n spesiale oomblik vir die unie om ‘n speler van sy gehalte terug te verwelkom op Loftus omdat hy die Bulle se DNS verstaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-593-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-168-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 81-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Italiaanse gholfspeler Andrea Pavan sal nog ‘n paar weke in Kaapstad bly nadat hy uit ‘n Stellenbosse hospitaal ontslaan is na ‘n fratsongeluk die dag voor hy in die Suid-Afrikaanse Ope sou afslaan. Hy het drie verdiepings ver in ‘n hysbakskag afgeval nadat hy deur oop deure gestap het sonder dat die hysbak daar was. Pavan het veelvuldige beserings opgedoen, maar sê dis ‘n wonderwerk dat hy nog kan loop. Hy het die plaaslike sakeman Johann Rupert bedank vir finansiële hulp terwyl hy herstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….