Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê hulle was eenvoudig nie goed genoeg in gister se T20-Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Kolkata nie. Die onoorwonne Proteas was die gunsteling in die uitklop-kragmeting, maar Nieu-Seeland het hulle behoorlik ore aangesit met ’n oorwinning met nege paaltjies en ’n plek in die eindstryd. Conrad erken sy span is behoorlik verslaan en het nie bloot onder druk geswig nie:
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die Nasionale Tesourie het fondse na die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging oorgeplaas vir die instel van die video-hulpstelsel volgende seisoen. Die volg op kommer oor die gehalte van skeidsregters se vertonings in die Premierliga. Die videostelsel sal na raming sowat 80-miljoen-rand kos. McKenzie sê die hulp aan SAFA sluit ook opleiding van skeidsregters en tegnologiese installasies by stadions in:
# Rugby: Suid-Afrika pak Nieu-Seeland, Spanje en Groot-Brittanje in hierdie naweek se Wêreldsewesreeks-toernooi in Vancouver, Kanada. Die Blitsbokke is tans tweede op die punteleer ná Fidji nadat hulle die toernooie in Kaapstad en Perth gewen het, met teleurstellende uitslae in Dubai en Singapoer. Die All Blacks is derde en Frankryk vierde, gevolg deur Australië, Argentinië, Spanje en Groot-Brittanje. Die volgende toernooi vind volgende naweek in New York plaas, gevolg deur toernooie in Hongkong, Valladolid in Spanje en Bordeaux in Frankryk.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis kan DP World-toer-geskiedenis maak op die Johannesburgse Ope, wat vandag op die Houghton-gholfklub begin. Die 22-jarige Jarvis het agtereenvolgende seges behaal in die Keniaanse Ope en die Suid-Afrikaanse Ope, en kan aansluit by die beroemde spelers Nick Faldo en Seve Ballesteros wat drie agtereenvolgende oorwinnings in die DP World-toer behaal het. Jarvis sê hy wou nog altyd die Johannesburgse Ope wen:
# En, motorsport: ‘n Nuwe era begin die naweek in Formule Een wanneer spanne op die Australiese Grand Prix die eerste keer die onbekende betree met ingrypende tegniese veranderinge. F1 het die eerste keer in dekades gelyktydig die onderstel- en krageenheidregulasies hersien, wat ‘n uitdaging vir bestuurders en ingenieurs inhou. Meer krag sal deur elektrisiteit opgewek word en daar is meer klem op bestuurders om takties te wees met die aanwending van energie. Sommige bestuurders is gemaklik met die veranderinge, maar ander sê daar is steeds baie onsekerheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….