Nuus 12:00
BULLETIN 5 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA striem die regering wat Russiese inmenging in Suid-Afrikaanse demokrasie beskerm
# Minister Kubayi sê Shamila Batohi is geregtig op haar volle pensioenvoordele
# En krieket: Die Protea-afrigter beskryf die nederlaag teen Nieu-Seeland in die T20-Wêreldbeker-halfeindstryd as ’n “opstopper”
# Die DA sê die ANC moet die grondwetlike beginsels van vryheid, demokrasie en menseregte toepas en terselfdertyd vooruitstrewende handelsverhoudings en ekonomiese groei verseker. Die Instituut vir Sekerheidstudies se studie, en internasionale joernaliste in besit van uitgelekte dokumente, gee besonderhede oor Russiese Buitelandse Intelligensiedienste wat geteikende kuberaanvalle en waninligtings-veldtogte teen Suid-Afrikaanse opposisiepartye voer. Ryan Smith van die DA sê dis ’n aanval op die land se nasionale veiligheid:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die vorige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, is geregtig op haar volle pensioenvoordele. Die MK-party het aansoek gedoen om ‘n hof-interdik wat sal verhoed dat Batohi haar pensioenvoordele kry weens haar vermeende wangedrag tydens die Nkabinde-ondersoek. Kubayi sê Batohi is nooit aan ‘n dissiplinêre proses onderwerp nie en daar is geen rede om beswaar te maak, iets terug te hou of formele ondersoek te doen na die volle betaling van vergoeding, voordele en gratifikasie nie.
# Die familie van die ontslape stigtersleier van COPE, Mosiuoa Lekota, is besig met begrafnisreëlings en die voorlopige datum is laat volgende week. Die 77-jarige het gisteroggend in ‘n Johannesburgse hospitaal gesterf. Die gesin se woordvoerder, Pitso Sekhoto, sê raadpleging met die regering en politieke leiers duur voort. Hy beklemtoon hulle fokus op Lekota se lewe en nalatenskap, aangesien hy ‘n nasionale figuur was wie se bydrae wyd erken word:
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê hulle was eenvoudig nie goed genoeg in gister se T20-Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Kolkata nie. Die onoorwonne Proteas was die gunsteling in die uitklop-kragmeting, maar Nieu-Seeland het hulle behoorlik ore aangesit met ’n oorwinning met nege paaltjies en ’n plek in die eindstryd. Conrad erken sy span is behoorlik verslaan en het nie bloot onder druk geswig nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-en-30-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-146-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: Die Italiaanse gholfspeler Andrea Pavan sal nog ‘n paar weke in Kaapstad bly nadat hy uit ‘n Stellenbosse hospitaal ontslaan is na ‘n fratsongeluk die dag voor hy in die Suid-Afrikaanse Ope sou afslaan. Hy het drie verdiepings ver in ‘n hysbakskag afgeval nadat hy deur oop deure gestap het sonder dat die hysbak daar was. Pavan het veelvuldige beserings opgedoen, maar sê dis ‘n wonderwerk dat hy nog kan loop. Hy het die plaaslike sakeman Johann Rupert bedank vir finansiële hulp terwyl hy herstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….