Nuus 11:00
BULLETIN 5 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran se ambassadeur in Suid-Afrika is oortuig Amerika en Israel sal aanspreeklik gehou word vir die dodelike militêre aanvalle
# Die regering vra meer as ses-duisend-400 Suid-Afrikaners om die Midde-Ooste op beperkte handelsvlugte te verlaat
# En krieket: Die Protea-afrigter beskryf die nederlaag teen Nieu-Seeland in die T20-Wêreldbeker-halfeindstryd as ’n “opstopper”
# Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, Mansour Shakib Mehr, sê Amerika en Israel se gesamentlike militêre lugaanvalle op Teheran is ‘n gevaarlike en ongehoorde oortreding van internasionale wette. Hy het die media ingelig oor die jongste verwikkelinge in sy land, met meer as een-duisend mense wat reeds in die lugaanvalle gesterf het. Mehr sê hy is oortuig daarvan dat Iran Amerika en Israel vir hul optrede aanspreeklik sal hou:
Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê intussen daar is ‘n opmerklike toename in registrasies op sy Travel Smart-stelsel, met meer as ses-duisend-400 Suid-Afrikaners wat reeds hulle teenwoordigheid in die Midde-Ooste geregistreer het. Woordvoerder Chrispin Phiri sê Suid-Afrikaners wat tans in die streeek is, word aangemoedig om gebruik te maak van die hervatting van beperkte handelsvlugte:
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het die versekering gegee dat lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag nie gemeenskappe sal terroriseer wanneer hulle in drie provinsies ontplooi word nie. Soldate gaan in misdaadgeteisterde gebiede in Gauteng, die Wes- en die Oos-Kaap ontplooi word om die polisie by te staan in die stryd teen onwettige mynbedrywighede, bendegeweld en bou-mafias. Motshekga sê die soldate is spesifiek opgelei vir hierdie ontplooiing en sal ’n streng professionele gedragskode moet nakom.
# Die SAKP in Gauteng het die DA se reklamebord veroordeel wat premier Panyaza Lesufi persoonlik teiken. Die party sê dis deel van ’n volgehoue veldtog om sy reputasie te skend te midde van sy pogings op die gebied van onderwys, ekonomiese hervorming, anti-rassisme en planne teen armoede. Die party bevestig sy volle steun vir Lesufi en veroordeel die DA se politieke skuiwe as ‘n manier om aandag af te trek van die party se eie mislukkings en ‘n weerspieëling van diepgewortelde rasse- en ideologiese vooroordele.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê hulle was eenvoudig nie goed genoeg in hul T20-Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland in Kolkata nie. Die onoorwonne Proteas was die gunsteling in die uitklop-kragmeting, maar Nieu-Seeland het hulle behoorlik ore aangesit met ’n oorwinning met nege paaltjies en ’n plek in die eindstryd. Conrad erken sy span is behoorlik verslaan en het nie bloot onder druk geswig nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-165-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….