Nuus 09:00
BULLETIN 5 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering raai die meer as ses-duisend Suid-Afrikaners in die Midde-Ooste aan om die gebied te verlaat
# Die Amerikaanse minister van Verdediging sê die oorlog met Iran kan agt weke duur
# En rugby: Die Blitsbokke pak die All Blacks, Spanje en Groot-Brittanje in die Vancouver Sewes
# Die departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê daar is ‘n opmerklike toename in registrasie op sy Travel Smart-stelsel met meer as ses-duisend-400 Suid-Afrikaners in die Midde-Ooste wat sedert gister hul teenwoordigheid registreer het. Amerikaanse en Israelse lugaanvalle op Iran en weerwraakaanvalle van Teheran bedreig die bestendigheid in die streek. Die woordvoerder van die departement, Chrispin Phiri, sê Suid-Afrikaners wat tans in die Midde-Ooste is, word aangemoedig om gebruik te maak van die hervatting van beperkte kommersiële vlugte uit die streek:
# En in Amerika sê die minister van Verdediging, Pete Hegseth, die oorlog met Iran kan tot agt weke duur, wat langer is as wat president Donald Trump se administrasie aanvanklik gesê het. Ses Amerikaanse weermaglede is dood sedert die konflik verlede Saterdag begin het. Volgens menseregtemonitors is meer as ’n duisend burgerlikes, insluitend 180 kinders, in Iran dood. Hegseth gee toe dat Iran steeds missielaanvalle kan uitvoer, maar beklemtoon dat Teheran nie Amerikaanse militêre mag kan oorleef nie:
# Die Ouditeur-generaal se kantoor sê Transnet moet genoeg kontantvloei genereer om sy kapitale besteding te befonds en skuld te vereffen. Die staatsinstelling se finansiële posisie het verswak met skuld wat van 137,6-miljard-rand verlede jaar toegeneem het tot 144,8-miljard-rand. Die adjunkleier van die Ouditeur-generaal se sake-eenheid, Bongumusa Thabethe, het aan die parlementêre Staande Komitee oor Openbare Rekeninge gesê Transnet het die afgelope dekade versuim om instandhoudingsvereistes na te kom en 32,3-miljard-rand is nie bestee nie. Hy sê Transnet moes verlede jaar tien-miljard-rand gebruik, maar het net 6,6-miljard-rand uitgegee, wat 3,4-miljard-rand te min is.
# Die adjunkminister van Indiensneming en Arbeid, Jomo Sibiya, sê nie-nakoming van gesondheids-, veiligheids- en munisipale regulasies stel lewens in gevaar. Dit volg nadat nege mense dood is toe ‘n pakhuis in Ormonde, suid van Johannesburg, ineengestort het. Die Stad Johannesburg het belowe om diegene wat verantwoordelik is aanspreeklik te hou, en ondersteuning te bied aan die betrokke werkers. Sibiya het bevestig ‘n formele ondersoek is aan die gang om die oorsaak en enige oortredings te bepaal, met voorlopige bevindinge wat dui op ernstige oortredings, insluitend ‘n gebrek aan goedgekeurde bouplanne.
# Rugby: Suid-Afrika pak Nieu-Seeland, Spanje en Groot-Brittanje in hierdie naweek se Wêreldsewesreeks-toernooi in Vancouver, Kanada. Die Blitsbokke is tans tweede op die punteleer ná Fidji nadat hulle die toernooie in Kaapstad en Perth gewen het, met teleurstellende uitslae in Dubai en Singapoer. Die All Blacks is derde en Frankryk vierde, gevolg deur Australië, Argentinië, Spanje en Groot-Brittanje. Die volgende toernooi vind volgende naweek in New York plaas, gevolg deur toernooie in Hongkong, Valladolid in Spanje en Bordeaux in Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-672-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-178-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….