Nuus 16:00
BULLETIN 4 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Richard Shibiri sê die manipulering van ondersoek-tydlyne veroorsaak vertragings
# Die Bereng-gesin is gefrustreerd terwyl Thabo Bester se regstryd voortduur
# En fietsry: PRASA skeduleer meer treine vir die Kaapstadse fietstoer
# Die hoof van die polisie se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad, Richard Shibiri, het voor die Madlanga-kommissie getuig die manipulering van ondersoek-tydlyne veroorsaak dat sake stilstaan. Hy verduidelik vertragings in die verkryging van verklarings verleng ondersoeke. Shibiri voeg by langdurige uitstel is onregverdig teenoor beskuldigdes, dreineer staatshulpbronne en kan veroorsaak dat getuies belangstelling verloor, wat beteken sekere sake kan teruggetrek word voor dit die hof bereik:
# Die Bereng-gesin se angs duur voort terwyl Thabo Bester se regstryd aanhou ná sy ontsnapping uit die Mangaung Korrektiewe Sentrum in Bloemfontein in 2022. Katlego Bereng se liggaam is as syne voorgehou en tydens die ontsnapping aan die brand gesteek. Vertragings in die verhoor ontstel sy gesin en sy pa, Batho Mpholo, noem die proses emosioneel uitputtend. ‘n Laaste voorverhoorsitting is vir 18 Maart in Bloemfontein geskeduleer, terwyl Bester se medebeskuldigdes wag op bevestiging of hulle verhoor in Julie sal voortgaan.
# President Cyril Ramaphosa versoek dringende optrede om Afrika se energiekloof te oorbrug. Hy het op die Afrika-energie-indaba in Kaapstad gesê die vasteland moet ‘n geïntegreerde, betroubare energiestelsel bou wat in ooreenstemming is met die Afrika-Unie se Agenda 2063. Ramaphosa beklemtoon doeltreffende energietoegang is die sleutel tot nywerheidsgroei, werkskepping en streeksintegrasie, wat Afrika-ekonomieë sal toelaat om die gehalte van hulpbronne te verbeter en wêreldwyd mee te ding:
# Fietsry: Die Passasierspooragentskap in die Wes-Kaap sal Sondag bykomende treine skeduleer vir die Kaapstadse fietstoer om fietsryers en toeskouers te help om padsluitings en verkeer te vermy. Parkeer-en-ry-punte sal by belangrike stasies beskikbaar wees, en sekerheidsmaatreëls word verhoog. Raymond Maseko van PRASA het fietsryers en ondersteuners aangemoedig om hul motors by die huis te los, vroeg op te daag en hul reise te beplan vir ‘n veilige en sorgvrye wedrendag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-673-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-176-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 81-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte: Die Padverkeerbestuurskorporasie het motoriste voor Paasnaweek aangeraai om seker te maak hul rybewyse en voertuiglisensies is geldig. Volgens die korporasie verval 700-duisend-399 voertuiglisensieskyfies aan die einde van hierdie maand. Die korporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê ook meer as 200-duisend rybewyse moet hernu word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….