Nuus 15:00
BULLETIN 4 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra Afrika om die energie-oomblik aan te gryp
# Iran neem afskeid van sy ontslape opperleier
# En rugby: Die nuwe All Black-afrigter is opgewonde oor die toer teen die Springbokke
# President Cyril Ramaphosa sê dis tyd vir Afrika om sy energiesekerheid, veerkragtigheid en volhoubaarheid te bevorder. Hy het die hoofrede gelewer op die Afrika-energie-indaba in Kaapstad en die vasteland se enorme olie-, gas-, son- en kritieke minerale hulpbronne uitgelig. Ramaphosa sê meer as 600-miljoen mense het nie toegang tot elektrisiteit nie, en beklemtoon betroubare, bekostigbare energie is noodsaaklik vir nywerheid, groei en wêreldwye mededingendheid:
# Die sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, het die Madlanga-kommissie om verskoning gevra omdat hy sy getuienisdatum misgeloop het, en verwys na voortdurende diarree sedert sy terugkeer uit Kaapstad. Die kommissie kritiseer getuies se vae mediese sertifikate en waarsku dit ontwrig die verrigtinge. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga sê onduidelike sertifikate kan vir mediese hersiening verwys word. Mogotsi het geen beswaar aangeteken nie, en sy volgende getuienisdatum moet nog aangekondig word:
# Beplande herbouing vind tans plaas op die hangbrûe in die Tsitsikamma-gedeelte van die Tuinroete Nasionale Park in die Wes-Kaap, om veiligheid en lewensduur te verseker. Brûe 2 en 3 is tot 23 Maart gesluit, en die hoofbrug, van 77-meter, sal vanaf 24 Maart tot 23 Junie gesluit wees. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die projek behels die vervanging van boonste strukture, die rehabilitasie van onderste strukture en om die beton te herstel. Hy sê gefaseerde bouwerk bied gedeeltelike toegang tot die roete, en besoekers word versoek om veiligheidsmaatreëls te volg.
Nuus uit die buiteland:
# Iran begin vandag afskeid neem van die ontslape opperleier, ajatolla Ali Khamenei, tydens ‘n seremonie in Teheran. Die Islamitiese Raad sê die afskeidseremonie sal drie dae lank duur en die begrafnisoptog word later bekendgemaak. Die raad sê die publiek sal hulde kan bring aan die ajatolla se liggaam in die Imam Khomeini-gebedsaal in Teheran. Khamenei het Saterdag in die ouderdom van 86 gesterf tydens Israelse en Amerikaanse lugaanvalle.
# Rugby: Nieu-Seeland se nuwe hoofafrigter, Dave Rennie, sê hy is opgewonde oor die toer in Suid-Afrika later vanjaar. Die Springbokke is in Augustus en September gashere vir die All Blacks. Drie van die vier toetse word in Johannesburg en Kaapstad gespeel, en die ander een die eerste keer in Amerika. Rennie sê hy sien uit na die vooruitsig van ses intense weke op Suid-Afrikaanse bodem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-310-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-196-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 81-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….