Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Protea-kaptein, Aiden Markram, sê hulle verwag vandag ’n taai stryd teen Nieu-Seeland in Kolkata in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika is nog onoorwonne en het in die groepsfase ’n oortuigende sege van sewe paaltjies oor die Swartpette behaal. Markram se span het nog nooit ’n T20-wedstryd op Eden Gardens gespeel nie, maar hy is vol vertroue dat hulle by die toestande sal aanpas:
Nieu-Seeland se kaptein, Mitchell Santner, het volle vertroue in sy span se vermoë om Suid-Afrika vandag te klop. Die Swartpette het in 2021 die eindstryd gehaal, maar teen Australië vasgeval, en in 2024 nie verder as die groepfase gevorder nie, waar die Proteas as naaswenners geëindig het. Santner sê hulle sal druk op Suid-Afrika toepas wanneer dit die meeste saak maak:
# Rugby: Nieu-Seeland se nuwe hoofafrigter, Dave Rennie, sê hy is opgewonde oor die toer in Suid-Afrika later vanjaar. Die Springbokke is in Augustus en September gashere vir die All Blacks. Drie van die vier toetse word in Johannesburg en Kaapstad gespeel, en die ander een die eerste keer in Amerika. Rennie sê hy sien uit na die vooruitsig van ses intense weke op Suid-Afrikaanse bodem:
# Laureus-toekennings: Die tennis-sterre Carlos Alcaraz en Jannik Sinner is benoem vir vanjaar se Laureus-toekenning as Sportman van die Jaar. Hulle is op die kortlys saam met die paalspring-rekordhouer Mondo Duplantis, PSG se sokkerspeler, Ousmane Dembélé, en die MotoGP-kampioen, Marc Márquez. Op die vroue se kortlys is die baanatlete Sydney McLaughlin-Levrone, Faith Kipyegon en Melissa Jefferson-Wooden, asook die swemmer Katie Ledecky, die tennisspeler Aryna Sabalenka en die sokkerspeler Aitana Bonmatí. Die Formule Een-kampioen, Lando Norris, en die veerpyltjiekampioen Luke Littler is op die kortlys vir Deurbraak-speler van die Jaar.
# En, Paralimpiese Spele: Die skiërs Menna Fitzpatrick en Scott Meenagh sal Brittanje se virtuele vlagdraers wees tydens Vrydag se openingseremonie van die Winterspele in Noord-Italië. Meenagh het in 2011 albei sy bene verloor toe hy in die Valskermbataljon in Afganistan diens gedoen het. Dis sy derde Spele. Die swaksiende Fitzpatrick keer terug nadat sy ‘n jaar gelede haar been gebreek en drie maande gelede ‘n ernstige kniebesering opgedoen het. Hulle sal virtueel deelneem aan die seremonie in die Romeinse amfiteater in Verona omdat albei die volgende dag reeds meeding.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….