Nuus 07:00
BULLETIN 4 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Ramaphosa se salarisverhoging van 3,8-persent is onregverdigbaar
# Die DA sê die inhegtenisneming van die direkteur-generaal van Gesondheid bewys die NGV se korrupsie-risiko
# En meer as 700 mense is dood sedert die VSA en Israel se aanvalle op Iran begin het
# Die EFF sê president Cyril Ramaphosa se salarisverhoging is onregverdigbaar, aangesien die ekonomie nie vinnig genoeg groei nie. Die Nasionale Vergadering het ’n salarisverhoging van 3,8-persent vir Ramaphosa goedgekeur, wat sy jaarlikse salaris tot net meer as 3,4-miljoen-rand opstoot. Poppy Mailola van die EFF sê Ramaphosa moet ’n voorbeeld stel en die verhoging weier, omdat die meeste gewone werkers in sommige privaat sektore nie verhogings kry nie:
ActionSA sê intussen die regering van nasionale eenheid waarsku landsburgers gedurig om hul sente om te draai, maar die uitvoerende gesag en president weier om ’n voorbeeld te stel. Athol Trollip van ActionSA sê terwyl dit skynheilig is dat parlementslede die salarisvoorstel verwerp terwyl hulle dieselfde ontvang, het hulle gehoop Ramaphosa sal dit self van die hand wys:
# Die DA sê die inhegtenisneming deur die Valke van die direkteur-generaal van die Departement van Gesondheid, Sandile Buthelezi, op bewerings van korrupsie, toon die Nasionale Gesondheidsversekering sal misluk as deel van ‘n departement wat deur wanbestuur en toesigmislukkings geteister word. Die party vra die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, om Buthelezi op voorsorgskorsing te plaas terwyl die ondersoek voortduur. Michelle Clarke van die DA sê voortgesette ondersoeke na die Bulkeng-suurstofaanlegtender beklemtoon ernstige bestuursmislukkings wat openbare vertroue en die lewensvatbaarheid van die NGV bedreig.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean McPherson, sê die ineenstorting van die gebou in Ormonde, suid van Johannesburg, het weereens die basiese uitdagings ontbloot in die manier waarop die bou-omgewing in Suid-Afrika gereguleer word. Nege mense is Maandagmiddag dood toe ’n betonblad tussen twee verdiepings van ’n gebou in aanbou, ingestort het. McPherson sê ’n deeglike ondersoek moet uitgevoer word om die feite te bepaal en skuldiges aanspreeklik te hou:
# Iran se Rooi Halfmaan-vereniging sê meer as 780 mense is in Teheran dood sedert Amerika en Israel Saterdag met aanvalle op die land begin het. Iran het gister sy aanvalle uitgebrei en die Amerikaanse ambassade in Saoedi-Arabië getref. Amerika het sy ambassades in Saoedi-Arabië, Koeweit en Libanon gesluit en Amerikaners gewaarsku om meer as twaalf lande in die Midde-Ooste te verlaat. Israel het gister nuwe aanvalle op Iran se leierskapkompleks uitgevoer. Intussen berig die Amerikaans-gebaseerde organisasie, Menseregte-aktiviste in Iran dat 742 burgerlikes, wat 176 kinders insluit, dood is.
# Paralimpiese Spele: Die skiërs Menna Fitzpatrick en Scott Meenagh sal Brittanje se virtuele vlagdraers wees tydens Vrydag se openingseremonie van die Winterspele in Noord-Italië. Meenagh het in 2011 albei sy bene verloor toe hy in die Valskermbataljon in Afghanistan diens gedoen het en neem vir die derde keer aan die Paralimpiese Spele deel. Die swaksiende Fitzpatrick keer terug nadat sy ‘n jaar gelede haar been gebreek het en drie maande gelede ‘n ernstige kniebesering opgedoen het. Hulle sal virtueel deelneem aan die seremonie in die Romeinse amfiteater in Verona omdat hul albei die volgende dag reeds moet meeding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-393-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-173-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….