Nuus 07:00
BULLETIN 26 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee sal die naweek reaksie formuleer oor hoe om Jacob Zuma te hanteer
# Action Society sê sy voorstelle vir die OPOD-wysigingswetsontwerp is in ‘n voorstel vir die Nasionale Raad van Provinsie opgeneem
# En krieket, die Pretoria Capitals klop Sunrisers Eastern Cape in ‘n SA20-wedstryd met ‘n lae telling
# Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee sal na verwagting die naweek besluit oor die lot van die party se voormalige president, Jacob Zuma. Hy het verlede maand aangekondig hy gaan nie vir die regerende party stemme werf of in die komende verkiesing vir die ANC stem nie. Hy het egter beklemtoon hy bly lid van die party. Zuma ondersteun openlik die pas gestigte uMkhonto weSizwe-party. Die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, sê tugstappe sal teen Zuma ingestel word omdat hy die party se grondwet oortree het.
# Action Society sê sy aanbevelings oor die Wysigingswetsontwerp oor die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat is in ‘n voorstel vir die Nasionale Raad van Provinsies opgeneem. Die organisasie pleit vir die onafhanklikheid van die polisiewaghondliggaam as ‘n Hoofstuk 9-instelling, om sy grondwetlike status en operasionele outonomie te verbeter. Die wetsontwerp is oop vir openbare kommentaar tot 2 Februarie. Ian Cameron van Action Society sê die voorgestelde wysigings het ten doel om OPOD te bemagtig om sy mandaat doeltreffend uit te voer en by te dra tot demokratiese hervorming:
# Die Gautengse Hooggeregshof het president Cyril Ramaphosa toestemming gegee om te appelleer teen ‘n besluit om sy erkenning van Misuzulu kaZwelithini as hoof van die Zoeloe-monargie ter syde te stel. Die Hooggeregshof in Pretoria het verlede maand die president se erkenning en kroning van die koning van die hand gewys. Die hof het Ramaphosa ook beveel om ʼn ondersoekkomitee aan te stel om bewerings te ondersoek dat koning Misuzulu nie vir sy posisie geïdentifiseer is volgens die tradisionele wette en tradisies van die Zoeloes nie. Die saak sal in die Appèlhof in Bloemfontein aangehoor word.
# Die nasionale Tesourie het 114-miljoen-rand goedgekeur wat van die Munisipale Rampreaksietoelaag na die Wes-Kaap oorbetaal sal word. Dit volg na uitgebreide oorstromings in September verlede jaar. Fondse vir die oorstromings in Mei en Junie moet nog beskikbaar gestel word. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê alhoewel die provinsie vir meer as 700-miljoen-rand aansoek gedoen het, waardeer hulle die Tesourie se fondse wat in vyf munisipaliteite gebruik sal word. Dit sluit Theewaterskloof, Overstrand, Stellenbosch, Langeberg en die Stad Kaapstad in:
# ‘n Nuwe verslag deur die Internasionale Energie-agentskap, getiteld Electricity 2024, sê die aanvraag na elektrisiteit per capita regoor Afrika is reeds vir drie dekades bewegingloos. Die verslag wys daarop in 2023 het ongeveer 600-miljoen mense in Afrika nie toegang gehad tot elektrisiteit nie. Die agentskap sê die beweginglose aanvraag na elektrisiteit het ‘n nadelige uitwerking op ekonomiese ontwikkeling en groei. Die verwagting is Afrika se bevolking sal teen 2030 vinnig groei en daar is ‘n dringende behoefte aan bykomende kragvoorsiening.
# Krieket: Die Pretoria Capitals het ʼn kliniese boul-vertoning gelewer om die Sunrisers Eastern Cape in hulle SA20-wedstryd in Centurion met drie lopies te verslaan. Die Capitals het eerste gekolf, maar slegs 125 in hulle 20 boulbeurte aangeteken. In antwoord het Wayne Parnell en Adil Rashid elkeen drie paaltjies laat kantel om die Sunrisers tot 122 vir nege te beperk. Na hierdie oorwinning is die Capitals die eerste keer hierdie seisoen nie laaste op die punteleer nie. Eathan Bosch van Pretoria Capitals sê hulle wil steeds die volmaakte wedstryd speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-38-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-22-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….