Nuus 14:00
BULLETIN 3 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die borgtogaansoek van Mugabe se seun is uitgestel
# COSATU verwelkom die boete wat aan die voormalige Steinhoff-direkteur Stehan Grobler opgelê is
# En sokker: Die Engelse vrouespan kry die versekering dat hulle veilig is in Turkye
# Die Alexandra-landdroshof in Johannesburg het die borgtogaansoek van die seun van die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe, Bellarmine, en sy medebeskuldigde, Tobias Mugabe Matonhodze, tot Donderdag uitgestel weens uitstaande dokumente en kragprobleme. Die twee word aangekla van poging tot moord en regsverydeling na ‘n skietvoorval by hul huis in Hydepark. Die advokaat vir die verdediging, Sinenhlanhla Mnguni, sê hulle is gereed om met die saak voort te gaan:
# COSATU verwelkom ‘n boete van 358-miljoen-rand wat die Gedragsowerheid van die Finansiële Sektor aan ‘n voormalige direkteur van Steinhoff, Stehan Grobler, opgelê het. ‘n Ondersoek het bevind Grobler het die Wet op Finansiële Markte oortree, veral rakende bepalings wat die regstreekse of onregstreekse vervaardiging of publikasie van vals, misleidende of bedrieglike verklarings verbied. Matthew Parks van COSATU sê dis ‘n langverwagte oorwinning:
# Transnet Hawe-terminale het sy teiken vir voertuigverskeping vir die 2025/26-boekjaar oortref deur meer as 792-duisend volledig geboude voertuie te vervoer tussen April verlede jaar en middel Februarie vanjaar. Dit sluit nuwe invoere, uitvoere en herverskeping van voertuie in. Voertuigterminale in die hawens van Durban in KwaZulu-Natal en Oos-Londen en Gqeberha in die Oos-Kaap het produktiwiteits-hoogtepunte aangeteken, versterk deur herhaalde invoere en sterk uitvoere. Transnet sê verbeterde marktoestande en ‘n toename in herverskepings-bedrywighede het groei verder aangevuur.
Nuus uit die buiteland:
# Die Dubaise Internasionale Lughawe en die Al Maktoum-lughawe in die Verenigde Arabiese Emirate het beperkte vlugte hervat nadat duisende mense gestrand was weens kansellasies. Die stap volg ná operasionele beperkings en die tydelike sluiting van Katar se lugruim na die Amerikaans-Israelse aanvalle op Iran. Voorrang word gegee aan passasiers met vroeëre besprekings, en Qatar Airways se vlugte bly opgeskort tot die Burgerlugvaartowerheid ‘n veilige heropening aankondig. Reisigers is aangeraai om nie lughawens toe te gaan sonder bevestigde kennisgewings van vertrektye nie.
Die afrigter van Engeland se vroue-sokkerspan, Sarina Wiegman, sê intussen hulle het die versekering ontvang daar is geen veiligheidskwessies vir vandag se Wêreldbeker-kwalifiseerder teen Oekraïne in Turkye nie, ondanks die konflik in die Midde-Ooste. Die wedstryd in Antalya begin vanmiddag vyfuur. Turkye grens aan Iran sowel as Irak en is ook naby Ciprus, waar ‘n Iranse hommeltuig Sondag op ‘n Britse Lugmagbasis neergestort het. Wiegman sê hulle sal nie huiwer om Turkye te verlaat as hul regering dink dit is onveilig nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-602-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-276-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….