Nuus 13:00
BULLETIN 3 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dubaise lughawens heropen gedeeltelik te midde van ontwrigtings
# Die Padvragvereniging sê die dieselprysverhoging sal die daaglikse bedrywighede van vervoermaatskappye raak
# En sokker: Bykans sewe-miljoen kaartjies is reeds beskikbaar vir die Wêreldbeker
# Die Dubaise Internasionale Lughawe en die Al Maktoum-lughawe in die Verenigde Arabiese Emirate het beperkte vlugte hervat nadat duisende mense gestrand was weens kansellasies. Die stap volg ná operasionele beperkings en die tydelike sluiting van Katar se lugruim ná die Amerikaans-Israelse aanvalle op Iran. Voorrang word gegee aan passasiers met vroeëre besprekings, en Qatar Airways se vlugte bly opgeskort tot die Burgerlugvaartowerheid ‘n veilige heropening aankondig. Reisigers is aangeraai om nie lughawens toe te gaan sonder bevestigde kennisgewings van vertrektye nie.
Suid-Afrika se Padvragvereniging sê intussen die verhoging van brandstofpryse is ‘n regstreekse gevolg van opwaartse druk op die internasionale olieprys as gevolg van risiko’s met voorsiening en logistiek ná die Amerikaanse en Israelse aanvalle op Iran. Die prys van petrol styg môre met 20-sent per liter, en diesel met tussen 62- en 65-sent. Uitvoerende hoof Gavin Kelly sê die stygings sal ‘n onmiddellike kostelas op die daaglikse bedrywighede van kommersiële vervoermaatskappye plaas:
# Die vakbondfederasie Saftu sê die instorting van die gebou in Ormonde in die suide van Johannesburg weerspieël ‘n dieper krisis in die land se bousektor. Agt werkers is gistermiddag dood toe ‘n gedeelte van die gebou wat nog in aanbou was, ingetuimel het. Een persoon word steeds vermis. Woordvoerder Asive Dyani eis ‘n nasionale oudit van hoërisiko-bouterreine sowel as die versterking en uitbreiding van die Arbeidsinspektoraat:
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, sê byna sewe-miljoen kaartjies is beskikbaar gestel vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Kanada, Amerika en Mexiko, waarvan ongeveer twee-miljoen in die aanvanklike lotery in Oktober verkoop is. Tydens die tweede verkoopsfase in Desember en Januarie was daar 508-miljoen versoeke. Die gewildste wedstryde was dié tussen Portugal en Colombia op 27 Junie in Miami, tussen Mexiko en Suid-Korea op die 18de in Guadelajara, en die eindstryd op 19 Julie in New Jersey. Die toernooi begin die 11de Junie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-431-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-263-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 81-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Dit is vandag Wêreldgehoordag en die Wêreldgesondheidsorganisasie berig meer as 430-miljoen mense wêreldwyd ly aan gehoorverlies. Bykans 60-persent van gehoorverlies in kinders kan voorkom word. Kenners waarsku gehoorprobleme kan kommunikasie, leerwerk en selfvertroue beïnvloed. Die organisasie beklemtoon vroeë opsporing en voorkoming deur veilige luistergewoontes, immunisasies, behoorlike oorversorging en vinnige behandeling van besmettings is die sleutel tot gehoorgesondheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….