Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle is goed geplaas voor ’n veeleisende seisoen waarin die groep se diepte belangrik sal wees. Die wêreldkampioen se seisoen begin op 20 Junie in Gqeberha met ’n wedstryd teen die Barbarians voordat hulle Nasieskampioenskap-veldtog op 4 Julie op Ellispark afskop teen Engeland. Nege-en-veertig spelers woon hierdie week ’n Springbok-belyningskamp in Kaapstad by. Erasmus sê langtermyn-beplanning is belangrik:
# Gholf: Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het bevestig voorbereidings is voltooi vir die 18de Johannesburgse Ope hierdie naweek in Houghton. Hy het aan Newzroom Afrika gesê die gebied het geen waterprobleme gehad nie, aangesien die gholfbane op grondwater staatmaak. Morero het verwys na die toerisme-aantreklikheid en internasionale belangstelling en sê die aanbieding van sulke geleenthede identifiseer Johannesburg as ‘n sport-spilpunt en beklemtoon die voortdurende infrastruktuur-ontwikkeling:
# Sokker: Die afrigter van Engeland se vrouespan, Sarina Wiegman, sê hulle het die versekering ontvang daar is geen veiligheidskwessies vir vandag se Wêreldbeker-kwalifiseerder teen Oekraïne in Turkye nie, ondanks die konflik in die Midde-Ooste. Die wedstryd in Antalya begin vanmiddag vyfuur. Turkye grens aan Iran sowel as Irak en is ook naby Ciprus, waar ‘n Iranse hommeltuig Sondag op ‘n Britse Lugmagbasis neergestort het. Wiegman sê hulle sal nie huiwer om Turkye te verlaat as hul regering dink dit is onveilig nie.
Intussen sê die Wêreldbeheerliggaam, FIFA, byna sewe-miljoen kaartjies is beskikbaar gestel vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Kanada, Amerika en Mexiko, waarvan ongeveer twee-miljoen in die aanvanklike lotery in Oktober verkoop is. Tydens die tweede verkoopsfase in Desember en Januarie was daar 508-miljoen versoeke. Die gewildste wedstryde was dié tussen Portugal en Colombia op 27 Junie in Miami, tussen Mexiko en Suid-Korea op die 18de in Guadelajara, en die eindstryd op 19 Julie in New Jersey. Die toernooi begin die 11de Junie.
# En atletiek: Kenia se Agentskap teen Verbode Middels het 27 atlete geskors rakende die oortreding van reëls oor verbode middels. Die groep sluit in Kenia se 400-meter-hekkieskampioen, Wiseman Were, en ‘n vorige wenner van die Boston- en die Chicago-marathon, Rita Jeptoo. Die 28-jarige Were is geskors omdat hy sedert Augustus drie toetse misgeloop het. Jeptoo is geskors ná ‘n toets vir verbode anaboliese androgeniese steroïede. Die groep sluit ook sokker- en basketbalspelers in wat voorlopig geskors is oor verskeie oortredings met verbode middels.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….