Nuus 07:00
BULLETIN 3 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC waarsku teen presidensiële veldtogte vir 2027
# Motoriste moet brandstofprysstygings verwag te midde van die spanning in die Midde-Ooste
# En die Amerikaanse minister van Verdediging sê die Iran-oorlog sal nie vir ewig aanhou nie.
# Die ANC het kommer uitgespreek oor voortgesette aktiwiteite wat met die sogenaamde PM27-veldtog verband hou. Volgens berigte is daar pogings om Patrice Motsepe te ondersteun as kandidaat om Cyril Ramaphosa in 2027 as partyleier te vervang. Motsepe het in die openbaar ontken dat hy vir die amp beskikbaar is. Die ANC sê die nasionale uitvoerende komitee het duidelik standpunt ingeneem dat geen leierskapveldtogte in aanloop tot die 2027 nasionale konferensie mag plaasvind nie. Die party sê sy lede moet op voorbereiding vir die munisipale verkiesing fokus.
# Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne sê brandstofpryse gaan van môre af styg. Petrol sal 20-sent per liter meer kos vir beide 93- en 95-oktaan, terwyl diesel, afhangende van die swaelinhoud, tussen 62- en 65-sent per liter duurder sal wees. Die paraffienprys styg met 44-sent. Dit volg nadat die internasionale Brent ruolie-prys in Februarie skerp gestyg het weens geopolitieke onrus in die Midde-Ooste. Die woelinge is veroorsaak deur spanning tussen Amerika, Israel en Iran.
# Die regering het bevestig drie senior amptenare van die Departement van Gesondheid is gister gearresteer in verband met bewerings van diefstal en bedrog. Verdere besonderhede kan nie vrygestel word terwyl die ondersoek voortduur nie. Die waarnemende regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die inhegtenisnemings weerspieël die regering se verbintenis tot die bestryding van korrupsie, in lyn met wat president Cyril Ramaphosa in sy staatsrede uiteengesit het:
# Die DA sê die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Wes-Kaap moet met duidelike operasionele mandate ingestel word. Dit volg na die inhegtenisneming van ‘n soldaat in Ravensmead op die Kaapse Vlakte, by wie se huis vuurwapens, ammunisie en plofstof gevind is. Terwyl die party die stryd teen bendebedrywighede ondersteun, waarsku hulle dat inwoners se regte ten spyte van militêre optrede beskerm moet word. Benedicta van Minnen van die DA sê veiligheid mag nie ten koste van die wet plaasvind nie:
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê Amerika en Israel se gesamentlike aanvalle in Iran sal nie ontaard in ’n uitgerekte streekskonflik nie. Hy sê Operasie Epic Fury fokus daarop om Iranse verdedigingsmissiele te vernietig, om missielvervaardiging te keer, hul vloot en ander veiligheidsinfrastruktuur te verwoes en seker te maak dat die land nooit kernwapens het nie. Hegseth sê president Donald Trump het nie die oorlog met Iran begin nie, maar sal dit voltooi:
# Rugby: Wallis se losskakel, Sam Costelow, is nie beskikbaar vir Vrydag se Sesnasies-kragmeting teen Ierland in Dublin nie. Die 25-jarige speler het verlede maand ’n enkelbesering opgedoen in die tweede helfte van die 26-23-nederlaag teen Skotland. Hy bly egter in die groep terwyl hy herstel en hoop om gereed te wees vir die toernooi se eindstryd teen Italië wat op 14 Maart in Cardiff plaasvind. Costelow sal deur Jarrod Evans of Dan Edwards vervang word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-998-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-375-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….