Nuus 18:00
BULLETIN 2 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom waarsku die stygende oliepryse en spanning in Midde-Ooste kan die huismark negatief beïnvloed
# Die GOOD-party sê die verhoging van Suid-Afrika se minimumloon beëindig nié armoede nie, maar bestuur dit net
# En, Rise Mzansi steun die nasionale aanlyn dobbelbelasting-hervorming
# Die ekonoom John Loos waarsku dat stygende oliepryse te midde van die spanning in die Midde-Ooste, risiko’s vir die huismark kan skep. Hy sê die groei van huispryse in Suid-Afrika sal na verwagting ‘n hoogtepunt van ses-persent bereik, ondersteun deur beskeie rentekoersverlagings deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank en ‘n matige verbetering in die ekonomie. Groei sal na verwagting volgende jaar tot ongeveer 4,1-persent verswak namate verdere rentekoersverlagings geleidelik afneem. Loos sê verbandlenings bly bestendig, en residensiële bouaktiwiteit toon vroeë tekens van herstel.
# Die GOOD-party sê Suid-Afrika se minimum loon is nie geregtigheid nie. Die land se minimumloon het van 1 Maart van 28-rand-79 sent tot 30 rand-23-sent per uur gestyg. Die sekretaris-generaal van Good, Brett Herron, sê ‘n vrou kan 40 uur per week werk, huise skoonmaak, ander mense se kinders grootmaak, vir bejaardes sorg, en steeds nie genoeg verdien om self aan armoede te ontsnap nie:
# RISE Mzansi sê Suid-Afrika staar ‘n toenemende dobbelkrisis in die gesig, met verwysing na kommerwekkende data van Statistiek SA en die Nasionale Dobbelraad. Die party ondersteun die Nasionale Tesourie se voorgestelde 20-persent nasionale aanlyn dobbelbelasting, maar doen ‘n beroep op hervormings, insluitend provinsiale inkomstedeling, ‘n provinsiale belastingvloer en verpligte nasionale lisensies vir aanlyn operateurs. Mabina Seabe van die party beklemtoon dat inkomste vir rehabilitasie afgebaken moet word, terwyl strenger maatreëls teen onwettige dobbeloperateurs landwyd nodig is:
# Rugby: SA Rugby sê dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika binnekort ‘n bod sal maak vir die aanbieding van die Wêreldbeker weens ekonomiese beperkings. Uitvoerende hoof, Rian Oberholzer het aan SABC Nuus gesê die land kan nie die inkomste genereer wat Wêreldrugby nodig het om die toernooi aan te bied nie. Hy sê die fokus is nou op die groei van die Springbok-handelsmerk in sterker markte, insluitend die vestiging van die Springbok-handelsmerk in die VSA, wat die beste finansiële belange van wêreldrugby dien:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-554-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-366-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 78-dollar-96-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrikaners wat finansieel sukkel, kan wettig onderhoud eis van hul finansieel-bestendige broers en susters ingevolge die Onderhoudswet. Die familiereg-spesialis Lucia Bugana sê die wet maak voorsiening vir bloedbroers en -susters om van mekaar te eis. Sy sê die bepaling het nog altyd bestaan, maar onlangs weer onder die aandag gekom. Howe vereis bewys van finansiële behoefte en ‘n broer of suster se vermoë om te betaal. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die wet beskerm kwesbare afhanklikes en dek noodsaaklikhede soos voedsel, behuising, gesondheidsorg en onderwys, ongeag ouderdom of geslag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….