Nuus 17:00
BULLETIN 2 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum se regsgeding teen onteiening sonder vergoeding begin
# Lasbriewe vir arres oorhandig aan senior amptenare van Gesondheid
# En, die SAPD gaan voort met soektog na 100 voortvlugtiges ná ontsnappings
# AfriForum het in Kaapstad begin met sy Hooggeregshofstryd wat die grondwetlikheid van die Wet op Onteiening betwis. Die hof gaan dié week bepaal wie mag deelneem as aansoekers, respondente en vriende van die hof. Ernst van Zyl van AfriForum sê die saak is van die uiterste belang vir die beskerming van privaat eiendomsregte, en waarsku die wet kan onteiening sonder vergoeding moontlik maak, soortgelyk aan vorige Zimbabwiese beleide:
# Drie senior amptenare van die Nasionale Departement van Gesondheid het vlugtig in die Handelshof in Pretoria verskyn vir beweerde bedrog en diefstal. Die Adjunk-direkteur-generaal vir Tersiêre Gesondheid en Hospitaaldienste, Malixole Mahlathi, die hoof- finansiële beampte, Phineas Mamogale, en die direkteur-generaal, Sabelo Buthelezi, is borgtog van tien-duisend-rand elk toegestaan en die saak is tot 3 Junie uitgestel. Hulle mag nie terugkeer werk toe nie. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê die vierde verdagte is steeds op vrye voet:
# Minstens 100 verdagtes wat in Suid-Afrika in hegtenis geneem is, is steeds op vrye voet nadat hulle in die vorige boekjaar ontsnap het. Slegs 184 van die 284 ontsnaptes is weer aangekeer. Die meeste voorvalle was vanuit polisie-selle of hofselle of is verkeerdelik vrygelaat, met Gauteng wat die hoogste aantal aangeteken het. Die polisie sê oorvol tronke, selle wat swak onderhou is en infrastruktuur-uitdagings belemmer steeds aanhouding, pogings om misdadigers weer vas te trek en doeltreffende wetstoepassing.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, verwelkom die Staatsveiligheidsagentskap se hulp om amptenare se onwettige onderskepping van sensitiewe inligting te keer. Dit volg nadat Macpherson die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni wat vir die Staatsveiligheidsagentskap verantwoordelik is, in kennis gestel het dat sensitiewe inligting tussen hulle kantore onwettig deur amptenare in die departement onderskep word. Macpherson sê die saak is uiters ernstig en die staatsveiligheidsagentskap is die regte agentskap om dit te ondersoek.
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, sê spelers wat hul monde bedek tydens onderonsies op die veld moet afgestuur word. Dit volg nadat Real Madrid se voorspeler, Vinícius Júnior, vir Gianluca Prestianni van Benfica beskuldig het van rassistiese aanmerkings in hul Kampioeneliga-uitspeelwedstryd. Prestianni het sy mond bedek tydens die beweerde voorval, wat deur UEFA ondersoek word. Infantino het aan Sky News gesê hulle is ernstig oor die bekamping van rassisme:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-953-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-392-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 78-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….