Nuus 16:00
BULLETIN 2 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat deklassifiseer die Phala Phala-diefstalverslag met beperkte toegang
# Paul O’Sullivan sal Donderdag terugkeer na die Parlement se ad hoc-komitee
# En krieket: Alyssa Healey tree uit eendagwedstryde met 158 in die laaste kragmeting met Indië
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het sy verslag oor die diefstal op president Cyril Ramaphosa se plaas Phala Phala in Limpopo, gedeklassifiseer. Die ondersoek is in 2022 gedoen om polisiegedrag te ondersoek rondom die diefstal in Februarie 2020. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het beklemtoon die verslag sal nie aan die publiek beskikbaar wees nie. Hy sê toegang sal slegs deur wettige kanale en ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting toegestaan word en sensitiewe inligting sal gesensor word.
# Die getuienisleier van die parlementêre ad hoc-komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, Norman Arendse, het bevestig die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan sal Donderdag terugkeer om sy getuienis te voltooi. Die parlementêre regskenner, Telana Halley-Starkey, het bevind O’Sullivan het ‘n statutêre oortreding gepleeg toe hy verlede week uitgestap het. Arendse verwelkom die raad om die komitee se grondwetlike dagvaardingsmagte in te span en regsmiddels te gebruik:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, verwelkom die aankoms van die jongste besending bek-en-klouseer-entstofdosisse. Die eerste groot besending van ‘n miljoen dosisse het op 21 Februarie uit Argentinië in Suid-Afrika aangekom. Nog 1,5-miljoen dosisse van die Turkse vervaardiger Dollvet het gister aangekom. Bennie van Zyl van TLU SA sê daar moet ’n strategiese plan wees waarvolgens die entstowwe landwyd toegedien word:
# Die vakbondfederasie Saftu sê sonder onmiddellike produksie-monitering en die afdwinging van tegnologie sal die onwettige mark net uitbrei en inkomste-invordering en die wettige bedryf ondermyn. Onlangse navorsing toon dat sowat 75-persent van sigarette wat in Suid-Afrika verkoop word, onwettig is. In die dranksektor verteenwoordig onwettige handel sowat 18-persent van die algehele verbruik per volume. Asive Dyani van Saftu sê die omvang van onwettige handel in Suid-Afrika het rampspoedige vlakke bereik:
# Krieket: Die Australiese vroue-kaptein, Alyssa Healey, sê haar 158 in haar laaste eendagwedstryd was ‘n baie spesiale manier om haar loopbaan te beëindig. Die 35-jarige tree uit all formate na die eenmalige toets teen Indië wat Vrydag in Perth begin. Australië het die eendagreeks 3-0 beklink met ‘n oorwinning met 185 lopies in die laaste kragmeting in Hobart. Healey se 158 het van slegs 98 balle gekom en Beth Mooney het ‘n onoorwonne 106 bygedra. Australië het op ‘n reuse-409 vir sewe geëindig en Indië daarna vir 224 uitgeboul.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-138-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-390-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 78-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….