Nuus 11:00
BULLETIN 1 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê swart ekonomiese bemagtiging is hier om te bly
# Die Iranse stafhoof vir gewapende magte en die minister van Verdediging is albei dood in lugaanvalle
# En sokker: Banyana Banyana pak Namibië in die COSAFA-vroue-eindstryd
# Swart Ekonomiese Bemagtiging sal nie geskrap word nie. Hy het daarmee die regering se verbintenis tot die bevordering van ekonomiese insluiting herbevestig. Mashatile het tydens die tweede eerlike dialoog oor swart ekonomiese bemagtiging in Durban die noodsaak beklemtoon om diepgewortelde ekonomiese ongelykhede aan te spreek. Hy het erken daar is uitdagings met implementering, maar het praktiese optrede beklemtoon ten einde inklusiewe groei te bevorder:
# Die Departement van Militêre Veterane het gewysigde regulasies oor die Pensioenvoordeel vir Militêre Veterane aangekondig, wat sosio-ekonomiese ondersteuning vir veterane verbeter. Na uitgebreide beraadslaging en openbare insette, bied die wysigings ‘n gestruktureerde raamwerk om die bestaan, waardigheid en finansiële sekuriteit van kwalifiserende veterane te verbeter. Militêre veterane word aangespoor om hulself te vergewis van die geskiktheids- en toegangsprosesse, terwyl belanghebbendes en ondersteuningsorganisasies versoek word om te help om inligting te versprei om breë bewustheid en toeganklikheid te verseker.
# Die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer en Menslike Nedersettings gaan ‘n gesin in Ballito bystaan nadat vyf kinders dood is in ‘n brand wat omstreeks 5-uur vanoggend in ‘n plakkershut ontstaan het. Die woordvoerder van die Departement, Ndabezinhle Sibiya, sê die oorskot van die kinders word deur forensiese spanne van die Polisie ondersoek. Die ma en een kind het oorleef en is in die hospitaal, terwyl die pa geringe beserings opgedoen het. Berading en ondersteuning is vir die oorlewendes gereël:
# Iran se amptelike nuusagentskap IRNA sê die stafhoof van die Iranse leër, Abdul Rahim Mousavi, en die minister van Verdediging, Aziz Nasirzadeh, is ook dood in Saterdag se aanvalle deur die VSA en Israel op Iran. Dit volg na die dood van die Iranse opperleier, die Ajatollah Ali Khamenei. ‘n Video deur die Iranse nuusagentskap Tasnim wys duisende mense wat aansluit by die begin van die routydperk ter ere van Khamenei. Die video wys hoe mense ingevolge Iranse roupraktyk hul koppe en bors slaan.
# Sokker: Banyana Banyana wil die kroon in Suider-Afrika dra wanneer hulle Namibië vandag om drie uur in die COSAFA-vrouekampioenskap-eindstryd by die Nuwe Peter Mokaba-stadion in Polokwane pak. Suid-Afrika het die eindronde gehaal ná ‘n oorwinning van 4-2 oor Zimbabwe met strafdoele na ‘n 1-1 gelykopuitslag in toegelate tyd. Namibië het die verdedigende kampioene, Zambië, met 1-0 uitgestof om hul eerste eindstryd sedert 2006 te haal, toe hulle teen Suid-Afrika verloor het. Intussen sal Zimbabwe en Zambië vandag om 12 uur in die uitspeelwedstryd om die derde plek by dieselfde stadion opdraf.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Borsmelkreserwe doen ‘n beroep op meer moeders om borsmelk te skenk om kwesbare pasgeborenes te red. Skenkermelk help om babas teen infeksies te beskerm en ondersteun gesonde groei, veral vir babas wie se moeders nie kan borsvoed nie. Die uitvoerende direkteur Staša Jordan sê die reserwe ondersteun tans vierduisend babas in openbare hospitale. Sy het ook die dringende behoefte aan openbare bewustheid en skenkings beklemtoon sodat meer babas lewensreddende voeding ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….