Nuus 09:00
BULLETIN 1 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran se opperleier Ayatollah Khamenei is dood in ‘n aanval
# Die Activists and Citizens Forum bevraagteken die geloofwaardigheid van die Parlementêre ad hoc-komitee
# En, ‘n waarskuwing word uitgereik vir swaar donderstorms in verskeie provinsies
# Iranse staatsmedia het bevestig dat die land se opperleier, Ayatollah Khamenei, in gesamentlike Amerikaanse en Israeliese lugaanvalle in Iran dood is. ‘n Aanbieder op Iranse staatsmedia het ‘n verklaring in Farsi voorgelees waarin Khamenei se dood aangekondig is. Die Amerikaanse president Donald Trump het in ‘n video op Truth Social gesê die optrede volg nadat Iran nie sy kernambisies wou laat vaar nie. Die aanvalle het gisteroggend vroeg begin terwyl miljoene mense op pad werk of skool toe was. Iran het reageer met aanvalle op verskeie Amerikaanse militêre basisse in die Midde-Ooste.
Die Franse president Emmanuel Macron het intussen gewaarsku die toenemende konflik het ernstige gevolge vir internasionale vrede en veiligheid. Macron sê Frankryk doen stappe om sy grondgebied, burgers en belange in die Midde-Ooste te beskerm. Hy het bygevoeg Frankryk is gereed om sy bondgenote by te staan, indien versoek. Hy het Iran aangespoor om in goeder trou te onderhandel om sy kern- en ballistiese programme en destabilisering van die streek te beëindig.
# Die Activists and Citizens Forum sê die geloofwaardigheid van die parlementêre ad hoc-komitee is in die weegskaal na ‘n onstuimige week van verrigtinge. Woordvoerder Dennis Bloem het die hantering van getuies, insluitend die Noordwes-sakeman Brown Mogotsi, en die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan, gekritiseer en die behandeling van die voormalige Nasionale Polisiekommissaris Khomotso Phahlane veroordeel. Hy het die komitee aangespoor om die publiek se vertroue te herstel:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Geel Vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms oor KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noordwes vandag. Swaar stortreën, skadelike wind, weerlig en hael kan oorstromings en infrastruktuurskade veroorsaak. Skadelike golwe word ook tussen Alexanderbaai en Plettenbergbaai verwag. Uiters hoë brandgevaartoestande duur voort in dele van die Vrystaat, Noord-Kaap, Noordwes, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap.
En nou sport:
# Gholf: Die jong opkomende Suid-Afrikaanse ster Casey Jarvis het die tuisskare op hulle voete gehad met ‘n skouspelagtige sewe meter sethou op die laaste putjie om die voortou te neem by die 115de Suid-Afrikaanse Ope in Stellenbosch. Die 22-jarige Jarvis het ‘n briljante ses onder syfer 64 aangeteken, vir ‘n voorsprong van 11 onder syfer. Hy is een hou voor die Italianer Francesco Laporta en sy mede-Suid-Afrikaner Hennie du Plessis, albei op 10 onder syfer. Die drie is saam in die groep vir vandag se belangrike laaste ronde.
# Tennis: Daniil Medvedev het die Dubai Tenniskampioenskapstitel ingepalm nadat sy Nederlandse teenstander Tallon Griekspoor moes onttrek weens ‘n besering wat hy in die halfeindronde opgedoen het. Die Rus het sy tweede titel in Dubai verwerf nadat hy Felix Auger-Aliassime in die halfeindronde kafgedrag het. Die voormalige wêreldnommer-een het die eindstryd gehaal sonder om ‘n stel af te staan. Griekspoor het ná sy oorwinning in skoon stelle oor Andrey Rublev gesê hy het met ‘n dyspierbesering gesukkel, wat hom laat onttrek het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….