Nuus 11:00
BULLETIN 28 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel stuur ‘n voorkomende aanval teen Iran van stapel
# Vyf politieke partye verklaar skenkings van 35-miljoen-rand
# En gholf: Francesco Laporta van Italië het ‘n voorsprong van een hou by die SA Ope
# Israel sê hulle het ‘n voorkomende aanval teen Iran van stapel gestuur, wat die Midde-Ooste in ‘n hernieude militêre konfrontasie gedwing het. Iranse media berig ontploffings is in Teheran gehoor en sirenes het vanoggend regoor Israel geloei. Die aanval volg nadat Israel en Iran in Junie in ‘n 12-dae lange lugoorlog betrokke was, en volg op herhaalde waarskuwings deur die VSA en Israel dat hulle weer sou toeslaan as Iran voortgaan met sy kern- en ballistiese missielprogramme. ‘n Israelse verdedigingsbeampte sê die operasie is maande lank in samewerking met Washington beplan.
# Die Verkiesingskommissie het verklarings van skenkings aan politieke partye van 1 September tot 31 Desember 2025 gepubliseer. Vyf partye het gesamentlik 35-miljoen-rand gerapporteer, gelei deur die DA met 31,3-miljoen-rand. Die ANC het twee-miljoen-rand verklaar, ActionSA 1,47-miljoen-rand, Build One South Africa 103-duisend-481-rand, en die Inkatha Vryheidsparty 158-duisend-330-rand. Sommige skenkings was laat, wat gelei het tot aanwysings kragtens die Wet op Politieke Befondsing. Die openbaarmaking volg op hersiene drempels, met deursigtigheid en nakoming sentraal tot die 2026/27 plaaslike regeringsverkiesing.
# Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, sê nuwe justisiemaatreëls sal op 1 Maart 2026 in werking tree, insluitend regulasies wat die Teen-Korrupsie-ondersoekdirektoraat binne die Nasionale Vervolgingsgesag plaas. Die woordvoerder Terrence Manase sê afgetrede regter Takalani Raulinga sal die klagtemeganisme lei, terwyl regter Mojapelo toegewys is aan die Wet op die Regulering van die Onderskepping van Kommunikasie en die Verskaffing van Kommunikasieverwante Inligting. Afgetrede regter Bernard Ngoepe sal as president van die Spesiale Tribunaal aangestel word, wat verantwoording en korrupsiebekamping sal versterk:
# Eskom sê 166-duisend-829 klante word nie meer deur lasvermindering gedurende spitstye geraak nie. Dit vorm deel van pogings om onwettige verbindings te bekamp en die infrastruktuur te beskerm. Die nutsmaatskappy het 128 voerders van lasvermindering verwyder, wat 47-persent van sy jaareinde-teiken verteenwoordig. Meer as 426-duisend slimmeters is landwyd aangebring. Eskom beoog om lasvermindering teen 2027 heeltemal uit te skakel met ‘n teiken van byna 1,7-miljoen verbruikers regoor die land
# Die Stad Tshwane het bykomende befondsing van agt-miljoen-rand vir die Tshwane-mark goedgekeur, wat die totale kapitaalbelegging vir 2025/26 tot 13-miljoen-rand verhoog. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling, Sarah Mabotsa, sê die fondse sal vir nuwe rakke in die koelkamers gebruik word en operasionele doeltreffendheid verbeter. Sy sê die opgraderings is daarop gemik om groeiende handel-volumes te akkommodeer, inkomste te verhoog en Tshwane-mark se rol as ‘n belangrike varsproduktemark in Suider-Afrika te versterk:
# En gholf: Francesco Laporta van Italië het ‘n voorsprong van een hou opgebou aan die begin van die derde ronde van die Suid-Afrikaanse Ope-kampioenskap by die Stellenbosch Gholfklub vandag. Laporta het gister ‘n briljante 64 aangeteken om ‘n algehele voorsprong van 10 onder baansyfer te haal. Hy word gevolg deur die Brit Nathan Kimsey met 9 onder. Die plaaslike uitdagers word gelei deur Dean Burmester, wat in die derde plek is met 8 onder na ‘n bestendige 67 in die tweede ronde. Intussen het Hennie du Plessis gister opslae gemaak met ‘n nuwe baanrekord van ‘n sensasionele 63 van 7 onder, wat hom gelyk vierde plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….