Nuus 18:00
BULLETIN 27 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Linda Gxasheka onttrek bewerings van bedrog teen die voormalige EMPD-beampte, Revo Spies
# Die ActionSA in Tshwane verwelkom die 2025/2026-aanpassingsbegroting
# En, ‘n UWK-studie bevraagteken eerlike inligting oor babakos
# Die geskorste hoof van Menslike Hulpbronne in Ekurhuleni, Linda Gxasheka, het bewerings van bedrog teen die voormalige adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Revo Spies, teruggetrek. Tydens kruisondervraging voor die Madlanga-kommissie het Gxasheka toegegee dat verwysings na bedrog in haar verklarings reggestel moet word, en gesê die saak hou verband met Spies se skorsing, nie met misdadige gedrag nie. Sy het erken dat die Stad sekere prosesse beter kon behartig:
# ActionSA het die Stad Tshwane se 2025/2026-aanpassingsbegroting wat gister in die raad goedgekeur is, verwelkom en sê dit bevestig die nuwe administrasie se verbintenis om die metro te bestendig. Die begroting het ’n bedryfs-oorskot van 1,2-miljard-rand. Henriette Frohlich van ActionSA sê hulle is bly om kennis te neem dat die kapitale begroting met 309-miljoen-rand verhoog, met 109-miljoen-rand wat toegewys is aan Energie en Elektrisiteit, en 147-miljoen-rand aan Water en Sanitasie:
# Sommige babakosvervaardigers ootree dalk Regulasie 991 van 2012. Dis ‘n nasionale gesondheidsbepaling wat agressiewe advertering van produkte soos kitsformule, graankos en sap beperk. Dis ‘n bevinding van ‘n nuwe studie van ‘n dieetkundige en navorser van die Universiteit van Wes-Kaapland, Aneeqah Latief. Sy waarsku dit kan borsvoeding ondermyn en ouers mislei om te glo hierdie produkte is beter as borsmelk:
# Pakistan het vroeër vandag gebiede in Afghanistan gebombardeer nadat die Afghaanse Taliban vroeër ‘n reuse-aanval teen Pakistanse militêre poste naby die grens uitgevoer het. Pakistan het vinnig gereageer en teenaanvalle uitgevoer op die Afghaanse hoofstad, Kaboel, en die provinsies Kandahar en Paktika naby sy grens van twee-duisend-600 kilometer. Die bomaanvalle is ‘n beduidende ontwikkeling in die voortgesette spanning tussen die twee lande, wat verlede Oktober na ‘n week van dodelike botsings ‘n wapenstilstand bereik het. Taliban-vegters maak glo hoofsaaklik staat op kommersiële hommeltuie wat met tuisgemaakte plofstof bewapen word.
# Rugby: Die Haaie se Springbok-heelagter Aphelele Fassi, gaan vir ‘n lang tyd op die kantlyn sit nadat hy in verlede week se Verenigde Rugbykampioenskapwedstryd teen die Leeus ‘n skouerbesering opgedoen het. Die afrigter, JP Pietersen, sê hy sal na verwagting minstens ses weke buite aksie wees, en selfs langer indien hy ‘n operasie moet ondergaan. Die Haaie speel môre teen die Bulle in Pretoria, gevolg deur ‘n drie weke blaaskans in die VRK. Jaco Williams sal in die nommer 15-trui vir die Haaie uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-270-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-226-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….