Nuus 12:00
BULLETIN 27 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kaapstad se burgemeester stel hom beskikbaar vir DA-leier
# Die EFF dien ‘n aanklag van minagting in teen Paul O’Sullivan nadat hy uit die parlementêre komitee se vergadering stap
# En gholf: ‘n Italianer word gedwing om aan die SA Ope te onttrek ná hy in ‘n hysbakskag in Stellenbosch afval
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die wedloop betree om John Steenhuisen as DA-leier op te volg. Hy sal verkiesbaar wees op die party se verkiesingskongres in April. Hill-Lewis vra ‘n mandaat om ‘n kragtige DA te bou, en voer aan ‘n sterker party sal help om ‘n sterker Suid-Afrika te bou. Hy het beloof om te bewys die DA regeer doeltreffend en lewer diens aan alle burgers:
# Die EFF het ‘n aanklag van minagting van die Parlement teen die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan ingedien by die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie. Hy het uit die ad hoc-komitee se vergadering gestap wat beweerde misdadige infiltrasie van die polisie ondersoek. Die EFF se adjunk-sekretaris-generaal, Leigh-Ann Mathys, sê O’Sullivan is nie verskoon of ontslaan nie. Sy beweer sy vertrek was ‘n strategiese skuif om die getuienisleier se vrae te ontduik:
# Die Vryheidsfront Plus sê politieke oorsig is noodsaaklik om bek-en-klouseer te bekamp. Woordvoerder Jaco Mulder sê die rol van politieke oorsig word dikwels onderskat, maar dis ’n belangrike instrument om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou, optrede te monitor en in te gryp as vermoë tekort skiet. Hy sê politieke oorsig in die stryd teen bek-en-klouseer fokus op voedselsekerheid, landbouproduksie en werksgeleenthede eerder as op party-politieke verskille:
# Gholf: Die Italianer Andrea Pavan het ‘n lang pad na herstel ná ‘n fratsongeluk wat hom gedwing het om te onttrek aan die Suid-Afrikaanse Ope in Stellenbosch. Die 36-jarige het vir ‘n hysbak gewag waar hy gebly het en ingestap toe die deure oopgaan, maar daar was geen hysbak nie en hy het drie verdiepings ver in die skag afgeval. Pavan het veelvuldige beserings opgedoen en sal verskeie operasies moet ondergaan wat hom lank in Suid-Afrika sal hou. ‘n GoFundMe-blad is vir hom geskep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-900-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-179-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê geboortesertifikate, slim-ID’s en paspoorte kan die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis tradisionele Khoi-San-name herken en registreer. Dit volg nadat die departement se inligtingstegnologie-stelsels opgeknap is om die herkenning van name met spesiale karakters moontlik te maak. Die stap bied ‘n oplossing vir die langdurige uitdagings waarmee Khoi-San-gemeenskappe worstel. Schreiber sê dis ‘n geskiedkundige stap vorentoe om Khoi-San-gemeenskappe se insluiting en waardigheid te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….