Nuus 11:00
BULLETIN 27 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê almal betrokke by die Russies-Oekraïnse skelmstreek moet vervolg word
# Die DA open amptelik die benoemings van kandidate voor sy verkiesingskongres
# En motorsport: McLaren se spanhoof sê hulle begin nie die nuwe seisoen as die gunsteling nie
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die reg moet sy loop neem in die saak van die Suid-Afrikaners wat na die Russies-Oekraïnse oorlog gelok is. Sewentien mans het glo onder vals voorwendsels by die gevegte aangesluit. Vyftien het teruggekeer, twee is nog in Moskou, en twee betrokke by ’n ander werwing-skelmstreek is dood. Lamola sê die werwers moet ook aanspreeklik gehou word:
# Die DA het amptelik benoemings geopen vir sy nuwe leier, federale voorsitter en drie federale ondervoorsitters. John Steenhuisen het vroeër die maand aangekondig hy sal nie vir ‘n derde termyn verkiesbaar wees as partyleier op die verkiesingskongres in April nie. Benoemings sluit op 23 Maart. Matthew Gerstner van die DA sê die persone wat benoem is, sal deur die party se federale nakomingsdepartement ondervra en nagegaan word:
# Statistieke Suid-Afrika sê die aantal sake-likwidasies in Januarie het met 9,4-persent gedaal in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, met 96 gevalle wat aangeteken is. Likwidasies van beslote korporasies het met 23 afgeneem, terwyl maatskappy-likwidasies met 13 gestyg het. Onica Mushwana van Statistieke SA sê oor die drie maande tot Januarie het die totale likwidasies van 324 tot 322 gedaal, wat dui op geringe verligting in finansiële druk op Suid-Afrikaanse sake-ondernemings:
Nuus uit die buiteland:
# Pakistan se Weermag het in die vroeë oggendure bomaanvalle geloods op die Afgaanse hoofstad, Kaboel, en in twee ander provinsies. Inligting oor die presiese liggings en oor enige ongevalle is nie beskikbaar nie. Afganistan se Weermag het gisteraand ’n aanval teen Pakistan uitgevoer en sê dis wraakaanvalle ná die afgelope naweek se lugaanvalle op Weermagkampe waarin minstens 18 mense dood is. Pakistan se minister van Verdediging, Khwaja Asif, sê sy land en Afganistan voer openlik oorlog teen mekaar.
# Motorsport: Die spanhoof van die Formule Een-kampioen McLaren, Andrea Stella, sê hulle begin die nuwe seisoen op die verdediging en vroeë aanduidings is dat Ferrari en Mercedes hul sterkste mededingers gaan wees. McLaren gaan probeer om hierdie seisoen sy derde agtereenvolgende vervaardigerstitel te wen, terwyl die Brit Lando Norris sy tweede agtereenvolgende bestuurderskampioenskap wil opraap. Stella sê hulle bring ’n paar geringe aërodinamiese veranderinge aan vir die eerste wedren, die Australiese Grand Prix, en gaan voort om aan belangrike kwessies soos betroubaarheid te werk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-619-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-188-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….