Nuus 09:00
BULLETIN 27 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Gina sê wetenskap bly ‘n kragtige diplomatieke instrument
# AfriForum bevraagteken adjunkminister David Mahlobo se besoek aan Japan
# En Hillary Clinton sê sy het elke vraag oor Epstein voor die Huiskomitee beantwoord
# Die adjunkminister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Nomalungelo Gina, beskryf die krag van samewerking op die vlak van wetenskap, tegnologie en innovasie tussen Suid-Afrika en Japan as ’n toekoms-georiënteerde pilaar van die bilaterale verhouding. Sy het gister Japan se Nasionale Dag in Pretoria gevier. Gina sê die samewerking in wetenskap en innovasie tussen die twee lande komplementeer die uitbreiding van ekonomiese en handelsbande wat die vennootskap in ’n posisie plaas om doeltreffend op globale uitdagings te reageer. ’n Groenwaterstof-vennootskap tussen die twee lande sal na verwagting meer as 300-miljard-rand tot die ekonomie bydra.
# AfriForum bevraagteken die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, se besoek aan Japan. Die besoek wat vandag ten einde loop, het op die bou van vermoë, vaardigheidsoordrag en volhoubare waterbestuuroplossings gefokus. Lambert de Klerk van AfriForum sê die Waternavorsingskommissie en ander plaaslike sentrums van kundigheid het magtiging en befondsing om op eie bodem navorsingsondersteuning, opleidingsprogramme en waterbestuuroplossings te bevorder:
# Die Suid-Afrikaanse Agenskap vir Maatskaplike Sekerheid het vyf amptenare in sy kantoor in Johannesburg ontslaan weens beweerde betrokkenheid by ‘n saak van bedrog en korrupsie. Interne tugstappe is gedoen nadat agt amptenare in hegtenis geneem en aangekla is. ‘n Ondersoek het aan die lig gebring dat die amptenare groot bedrae geld by ‘n Shoprite-supermark in Soweto onttrek met meer as 150 vals SASSA- en ander bankkaarte. Die woordvoerder van SASSA, Paseka Letsatsi, sê die sake van die oorblywende drie is in ‘n gevorderde stadium en hang van hofuitsprake af:
# Amerika se voormalige minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, het ná haar verklaring voor die Huis se oorsigkomitee gesê sy het elke vraag oor Epstein volledig geantwoord in die lig van wat sy weet. Nadat sy ses ure agter geslote deure met komiteelede deurgebring het, het Clinton aan verslaggewers gesê sy is spyt haar getuienis word nie openbaar gemaak nie. Clinton sê sy is vol vertroue dat haar man, oudpresident Bill Clinton wat vandag getuig, niks weet van Epstein se misdade nie:
# Tennis: Die 2023-kampioen Daniil Medvedev het deurgedring na sy derde Dubai Ope halfeindronde nadat hy die Amerikaner Jenson Brooksby verslaan het. Die derde gekeurde Rus sal die flink Kanadees Felix Auger-Aliassime, wat agtste gekeurde Tsjeg Jiri Lehecka geklop het, aandurf vir ‘n plek in die eindronde. Andrey Rublev van Rusland het sy onoorwonne rekord teen die Fransman Arthur Rinderknech behou. Hy kom nou te staan die Nederlander Tallon Griekspoor wat sy aanloop tot die halfeindronde verlede jaar ewenaar het deur die sesde gekeurde Tsjeg Jakub Mensik te verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-850-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-187-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….