Nuus 07:00
BULLETIN 27 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel ‘n paneel aan om die Will for Peace-vlootoefening te ondersoek
# Loyiso Masuku van die ANC is verkies as die eerste onderburgemeester van die Stad Johannesburg
# En Hillary Clinton sê sy het geen inligting oor Jeffrey Epstein nie
# President Cyril Ramaphosa het ’n ondersoek gelas na die multinasionale vlootoefening, Will for Peace, en ’n paneel onder leierskap van regter Bernard Ngoepe aangestel. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het na bewering die president se opdrag in Januarie om drie Iranse oorlogskepe aan die vlootoefening in Valsbaai te onttrek, verontagsaam. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die paneel sal die omstandighede rondom die oefening en die faktore wat bygedra het tot die versuim om die president se bevel te gehoorsaam, ondersoek en aanbevelings maak:
# Die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, het die Konstitusionele Hof genader in ’n poging om sy afdanking in 2020 om te keer en hom weer aan te stel. Dit volg nadat die Arbeids-appèlhof vroeër die maand sy aansoek om heraanstelling verwerp het. Phahlane is in 2020 uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens verwyder ná ’n skorsing van drie jaar weens bewerings van korrupsie en wangedrag. Hy is skuldig bevind aan oneerlike gedrag en dat hy die SAPD in oneer gebring het. Phahlane hou vol sy afdanking was onregverdig.
# Die Kabinet het die eerste nasionale vervoerkonferensie goedgekeur om uitdagings in die vervoersektor aan te spreek. Die konferensie, wat van 16 tot 18 Maart by die Gallagher-landgoed in Gauteng aangebied sal word, sal die regering, belanghebbendes uit die bedryf, en internasionale vennote bymekaarbring om oplossings te ontwikkel vir beter beweeglikheid, infrastruktuurprestasie en dienslewering. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die konferensie sal help om die vervoersektor te versterk en dienste te verbeter:
# Die ANC-leier in Johannesburg, Loyiso Masuku, is onbestrede verkies as Johannesburg se eerste onderburgemeester. Sy was vroeër die burgemeesterskomiteelid vir Finansies. Dié portefeulje val nou onder die kantoor van die onderburgemeester. Masuku is deur die ANC en sy koalisievennote ondersteun terwyl die DA nie die stemmery bygewoon het nie. Die stad sê Masuku sal burgemeester Dada Morero ondersteun om belangrike programme te ko-ordineer, oorsig oor departemente en entiteite te versterk, en verbeterde dienslewering in die metro te versnel.
# Amerika se gewese minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, sê sy het geen inligting oor die seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein, se misdade nie en kan nie onthou dat sy hom ooit ontmoet of met hom gepraat het nie. Sy het gister agter geslote deure voor die Huis se oorsigkomitee getuig. Clinton sê in haar openingsverklaring Epstein was ’n veragtelike persoon. Sy beskryf sy misdade as ’n wêreldwye gruwel wat ’n ondenkbare menslike tol geëis het. Die komiteevoorsitter, James Comer, sê die ondersoek is tweeledig:
# Krieket: Die voormalige Protea-ster Imran Tahir sal Vrydag terugkeer na die Dolphins in Durban wanneer die span begin met die verdediging van sy KSA Eendagbeker-titel teen die Warriors in Gqeberha. Die 46-jarige Tahir het in 2020 laas vir die Dolphins gespeel en bring belangrike ervaring, veral nadat die Dolphins sewe spelers aan die Protea-groep moes afstaan vir hul toer na Nieu-Seeland. Die afrigter, Quinton Friend, sê met die 50-boulbeurt Wêreldbeker wat in 2027 in Suid-Afrika plaasvind, glo hy die plaaslike 50-boulbeurt-kompetisie is baie belangrik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-978-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-174-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….