Nuus 18:00
BULLETIN 26 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwelkom die terugkeer van Suid-Afrikaners wat gewerf is om in Rusland te veg
# Cosatu is bekommerd oor die jongste ontwikkelinge by Ekapa-myn
# En, die ANC-streeksekretaris in Ekurhuleni Jongizizwe Dlabathi bedank te midde van partyspanning
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die meeste van die Suid-Afrikaners wat gewerf is om in die Russiese frontlinies te veg, het veilig tuis aangekom. Ntshavheni het aan die media gesê die regering het ingegryp nadat hulle noodoproepe van die jong mans ontvang het, wat gelok is om kontrakte met militêre kontrakteurs te sluit. Sy sê ondersoeke is aan die gang na die omstandighede rondom hul werwing en moontlike oortredings van Suid-Afrikaanse wetgewing:
# Die vakbondfederasie Cosatu is bekommerd oor die verloop van gebeure by die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap, na die onderneming besluit het om vir likwidasie aansoek te doen. Dit volg na vyf mynwerkers wat verlede week ondergronds vasgekeer is ná ‘n modderstorting by die myn, vermoedelik dood is. Reddingspogings duur voort, maar Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê hulle eis ‘n deeglike ondersoek na die voorval:
# Die ANC het die bedanking van sy streeksekretaris en burgemeesterskomiteelid vir Finansies in Ekurhuleni, Jongizizwe Dlabathi, bevestig en verwys na verskille met burgemeester Nkosindiphile Xhakaza. Die stap volg ná ‘n onlangse herskommeling waartydens ANC-raadslede vorige EFF-posisies gevul het. Dlabathi sê sy bedanking is in die party se beste belang. Hy word geprys as die organisasie se masjienkamer in Ekurhuleni.
# Minstens 46 mense is dood in verwoestende vloede in die suidoostelike Brasiliaanse staat Minas Gerais, terwyl duisende ontheem is. Volgens die staatsbrandweer word 21 mense steeds vermis, terwyl nagenoeg drie-duisend-600 mense deur vloede en grondstortings in die stede Juiz de Fora en Uba dakloos gelaat is. Die twee stede is ongeveer 110 kilometer uitmekaar en sowat 310 kilometer noord van Rio de Janeiro. Brasilië se federale regering het noodlenigings versnel en humanitêre hulp aan die streek verleen deur gesondheidswerkers en nasionale verdedigingspersoneel te stuur.
# Tennis: Die ATX Ope-vrouetoernooi in Austin, Texas, het ‘n sogenaamde woedekamer beskikbaar gestel waar spelers weg van die kameras uiting kan gee aan hul frustrasies. Dit volg ná Coco Gauff se uitbarsting tydens die Australiese Ope verlede maand wat ‘n debat ontketen het oor spelers se privaatheid tydens toernooie. Die Amerikaner het herhaaldelik haar raket teen die grond geslaan nadat sy teen die Oekraïense speler Elina Svitolina verloor het in die kwarteindstryd op Melbournepark, onbewus daarvan dat kykers reg oor die wêreld haar kan sien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-35-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-152-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….