Nuus 15:00
BULLETIN 26 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson gelas die skorsing van ‘n senior direkteur betrek by ‘n onderwystender van 113-miljoen-rand in Mpumalanga
# Stad Kaapstad loop gevaar van ‘n droogte
# En rugby: ‘n Gewese skoolseun-ster is onder die 49 spelers wat die Bok-belyningskamp gaan bywoon
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het gelas die departement se direkteur van Bouwerk en Projekbestuur, Velamina Matsi-Seregile, moet as voorsorgmaatreël geskors word ná haar hofverskyning op aanklagte van bedrog. Matsi-Seregile en 31 medebeskuldigdes het in die Landdroshof in Mbombela, Mpumalanga, verskyn rakende ‘n tender van 113-miljoen-rand met betrekking tot die provinsiale Onderwysdepartement. Macpherson sê dissiplinêre stappe sal saam met strafregtelike verrigtinge plaasvind om sy beleid van geen-verdraagsaamheid teenoor korrupsie te herbevestig.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die regering bly gefokus op makro-ekonomiese bestendigheid en strukturele hervormings om groei te bevorder. Hy het op ‘n ontbyt ná die begrotingsrede in Kaapstad pogings uitgelig om skuld bestendig te maak. Godongwana het ook hervormings uiteengesit gemik op die herstel en herstrukturering van Eskom. Hy sê ‘n toekenning van 254-miljard-rand ondersteun die herstel van kragvoorsiening en die instel van langtermyn strukturele hervormings:
# President Cyril Ramaphosa sê al 14-miljoen beeste in Suid-Afrika sal ingeënt word teen bek-en-klouseer, met gemeenskaplike gebiede, suiwelplase en voerkrale wat voorkeur sal geniet. Ramaphosa het tydens die opening van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers in die Parlement tradisionele leiers versoek om ‘n gladde inentingsproses te bemiddel. Hy sê die maatreëls het ten doel om vee te beskerm, beesvleishandel te herstel en ekonomiese groei in landelike gemeenskappe te ondersteun:
# Die Stad Kaapstad sê hy beleef nie ‘n droogte nie, maar die moontlikheid raak groter dat waterbeperkings later vanjaar ingestel kan word. Damvlakke staan tans op net meer as 55-persent, wat sowat 19-persent laer is as ‘n jaar gelede. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê volgens die huidige watergebruik kan die vlakke teen Mei tot 40-persent daal indien vanjaar se reënval gemiddeld is:
# Rugby: Verlede jaar se kaptein van Paarl Gim se eerstespan en SA Skole, Markus Muller, is een van elf nuwelinge wat Springbokafrigter Rassie Erasmnus na vanjaar se eerste nasionale belyningskamp genooi het. Die senter is tans gekontrakteer by die Stormers, waar hy baie hoog aangeslaan word deur die Bok-losskakel, Sacha Feinberg-Mngomezulu. Nog ‘n lid van verlede jaar se nasionale onder-18-span, Kai Pratt van die Haaie, is ook onder die 49 spelers wat volgende week se kamp in Kaapstad gaan bywoon, asook verlede jaar se Junior Bokkaptein, Riley Norton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-253-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-172-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….