Nuus 14:00
BULLETIN 26 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering wil die SABC se skuld vereffen en sy infrastruktuur herstel
# Stad Kaapstad veroordeel die moord op twee mense naby ‘n skool in Atlantis
# En tennis: Tiley bedank as die hoof van Tennis Australië en word die hoof van die Amerikaanse Tennisvereniging
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die regering sal voorkeur gee aan ‘n oplossing vir die finansiële en infrastruktuur-uitdagings by die SABC. ‘n Welkome 700-miljoen-rand is toegeken as deel van pogings om die sukkelende openbare uitsaaier bestendig te kry. Die minister sê in ‘n onderhoud met die SABC die Nasionale Tesourie sal eers die korporasie se skuld aan Sentech vereffen en voorkom dat die Poskantoor gelikwideer word:
# Die Pam Golding Eiendomsgroep sê die belastingverligtingsmaatreëls in die begroting is goeie nuus vir verbruikers en die behuisingsmark. Die aanpassings aan inkomstebelastingkerwe en spaarbeperkings sal na verwagting besteebare inkomste verhoog, bekostigbaarheid verbeter en kopersvertroue ondersteun, veral onder eerstehuis-eienaars. Die uitvoerende hoof, Andrew Golding, sê hoewel brandstofheffing-verhogings druk kan veroorsaak, sal die algehele begroting waarskynlik die vraag na huise ondersteun en markbedrywighede verbeter.
# Die Stad Kaapstad veroordeel die skietery in Atlantis waarin ‘n graad 8-leerder en ʼn skoolvervoer-bestuurder dood is. Aanvallers het in Palmerstraat naby Atlantis Secondary losgebrand op ʼn minibus wat skoolkinders vervoer. Nog ʼn graad 8-leerder het ernstige beserings opgedoen. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Beweeglikheid, Rob Quintas, sê wanneer aanvallers op ʼn voertuig skiet wat leerders vervoer, kan dit net as ’n oorlogsdaad beskryf word:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandbestrydingsoperasies duur voort in die berge bo die Rooiberg-kelder naby Robertson nadat brande wat deur weerlig veroorsaak is, in ‘n ontoeganklike gebied versprei het. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê die oorspronklike brandlyn is onder beheer en die brand by Dassieshoek beweeg stadig weg van eiendomme. ‘n Brand woed steeds bo Meulplaas weens wisselvallige wind en ou, droë plantegroei. Otto beklemtoon die beskerming van eiendom bly die belangrikste:
# Tennis: Die Suid-Afrikaans-gebore administrateur Craig Tiley is onderweg na Amerika nadat hy bedank het as uitvoerende hoof van Tennis Australië. Hy was die afgelope 20-jaar hoof van die Australiese Ope. Tiley gaan die nuwe uitvoerende hoof van die Amerikaanse Tennisvereniging word, maar sal nog in Australië aanbly om ‘n gladde oorgang te verseker. Die direkteur van Tennis Australië, Chris Harrop, sê die sport het van krag tot krag gegaan onder Tiley se leierskap. Daar is reeds begin na die soektog vir ‘n nuwe uitvoerende hoof.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-307-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-178-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….