Nuus 13:00
BULLETIN 26 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie word gevra om sekere ad hoc-komiteelede te ondersoek wat glo misdadigers ondersteun
# Die Dampproduktevereniging vra ‘n gekoördineerde stryd teen onwettige tabak- en damphandel
# En gholf: Alle kaartjies vir die SA Ope in Stellenbosch is uitverkoop
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan sê hy het die Madlanga-kommissie gevra om sekere lede van die parlementêre ad hoc-komitee te ondersoek vir die beweerde ondersteuning van misdadigers in die strafregstelsel. Albei instellings ondersoek beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel. O’Sullivan het aan Newzroom Afrika gesê hy het niks om weg te steek nie en gaan vandag voort met sy getuienis voor die kommissie. Hy sê hy is ontbied om te reageer op bewerings dat hy met polisie-operasies ingemeng het en om bewyse te lewer oor intelligensie-mislukkings.
# Die Dampproduktevereniging van Suid-Afrika sê die verhoging in dampbelasting, in ooreenstemming met inflasie, is ‘n beskeie en weldeurdagte stap, hoewel hy geen verhoging sou verkies het. Die vereniging vra ‘n bewysgebaseerde benadering tot belasting vir ondersteuning aan volwasse rokers wat van sigarette oorskakel. Asanda Gcoyi van die vereniging vra ‘n gekoördineerde stryd teen onwettige tabak- en damphandel en ondersteun ‘n driejaar-aksynspadkaart vir alkohol-, tabak- en gesondheidsheffings:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse spesiale gesant, Steve Witkoff, sal vandag die derde ronde gesprekke met Iran in Switserland lei, waar hoofsaaklik gefokus gaan word op sy kernprogram. Amerika het ‘n reuse-militêre mag in die Midde-Ooste versamel, wat vrese vir ‘n groter streekskonflik veroorsaak. Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, sê Witkoff streef daarna om die beste moontlike ooreenkoms vir Amerikaners te bereik:
# Gholf: Die Stellenbosse Gholfklub in die Wes-Kaap gaan tot Sondag volgepak wees nadat alle kaartjies vir die Suid-Afrikaanse Ope uitverkoop is. Die toernooi, wat vanoggend begin het, word gesamentlik onderskryf deur die Sonskyntoer en die DP World-toer en bied vrystellings vir vanjaar se Meesterstoernooi en Britse Ope. Die vyfmalige kampioen, Ernie Els, neem deel saam met sy Suid-Afrikaanse landgenote soos Charl Schwarzel, die verdedigende kampioen, Dylan Naidoo, en die voormalige kampioene Dean Burmester, Daniel van Tonder en Branden Grace.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-171-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-178-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het die internasionale Bloomberg-burgemeestersuitdaging gewen. Die metro het prysgeld van 15,8-miljoen-rand ontvang om vullisbestuurs-oplossings in plakkerskampe saam met die inwoners te ontwerp. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kaapstad se inskrywing was vir ’n projek om onwettige storting te verminder en skoner, gesonder gemeenskappe te skep:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….