Nuus 11:00
BULLETIN 26 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s sê die begroting weerspieël Suid-Afrika se sterk fiskale prestasie
# Die Wes-Kaapse premier dreig met regstappe oor personeeltekorte in die polisie
# En rugby: Die Junior Bokkke is versterk met die terugkeer van Reid en Mnebelele vir die wedstryd teen Georgië
# Die graderingsagentskap Moody’s sê Suid-Afrika se begroting bevestig die land se sterk fiskale prestasie, ondersteun deur breedgebaseerde inkomstegroei, en dui op verbeterende fiskale vooruitsigte. Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in sy begrotingsrede verklaar die land se skuld sal in die komende belastingjaar ‘n hoogtepunt bereik nadat dit vir byna twee dekades gestyg het, terwyl skulddienskoste ook daal. Moody’s stel sterker ekonomiese bedrywighede, voortgesette bestedings-dissipline en laer skulddienskoste in die vooruitsig.
Build One South Africa sê intussen die begroting toon tekens van fiskale bestendigheid, maar waarsku ‘n lang pad na herstel lê nog voor vir Suid-Afrika. Die party sê werkloosheid bly hoog, ekonomiese groei is te laag, en marginale belastingverligting vir klein ondernemings sal nie township-ekonomieë verander nie. Roger Solomons van BOSA verwelkom die onttrekking van die 20-miljard-rand in beplande belastingverhogings, inflasie-aangepaste persoonlike inkomstebelastingkerwe en die voortsetting van die maatskaplike noodtoelaag.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, waarsku die provinsie kan moontlik ‘n formele tussenregerings-geskil verklaar of die howe nader indien daar nie aandag gegee word aan personeeltekorte en ondersoeke in die polisie nie. Altesaam 345 mense is net in Januarie in die provinsie vermoor. Winde het in sy provinsiale rede gesê die nasionale regering het die afgelope 30 jaar geen werklike of betekenisvolle beleggings in veiligheid gedoen nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Groter Manchester-polisie in Engeland het veiligheidsmaatreëls opgeskerp by alle moskees nadat ‘n man met ‘n sak wapens by Manchester Sentraal se moskee in hegtenis geneem is. Assistent-hoofkonstabel John Webster sê hy het ‘n byl, ‘n mes en ‘n hamer by hom gehad toe hy ingegaan het terwyl honderde aanbidders besig was met gebede tydens Ramadan. Hy sê die man het verdag begin optree en die polisie is ontbied:
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, het ‘n sterk groep aangewys vir môre se tweede en laaste wedstryd teen Georgië in Tbilisi. Suid-Afrika het Sondag se eerste wedstryd 35-0 gewen. Die voorry-staatmakers Oliver Reid en Siphosethu Mnebelele is teruggeroep na die opdrafspan, met Zekhethelo Siyaya ingesluit as heelagter in die plek van Dylan Miller, wat op die bank is. Foote sê Reid en Mnebelele se ondervinding gee die span bykomende selfbeheersing en tegniese krag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-86-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-213-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-188-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….