Nuus 09:00
BULLETIN 26 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA kritiseer die gebrek aan sterker finansiële steun vir landbou in die begroting
# Die uitvoerende direkteur van OPOD se termyn word verleng
# En die EU en Brittanje teken ’n mededingingsamewerkingsooreenkoms
# TLU SA kritiseer die 2026/2027-begroting omdat dit nie sterker finansiële steun vir landbou bied nie, ten spyte daarvan dat die sektor uitdagings soos bek-en-klouseer en voortdurende druk op voedselsekerheid, werkgeleenthede en uitvoere moet hanteer. Die organisasie waarsku hoewel die begroting infrastruktuur- en sekuriteitsbefondsing insluit, dit nie geteikende maatreëls insluit om veerkragtigheid en groei van boerdery bevorder nie. Caria van der Merwe van TLU SA sê staatskapasiteit is nodig om te verseker dat landboubefondsing boere bevoordeel:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, se versoek aanvaar om die termyn van die huidige uitvoerende direkteur van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Jennifer Ntlatseng, te verleng. Die gewese uitvoerende direkteur se kontrak het op 31 Julie 2025 verstryk. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron, sê die besluit is geneem om organisatoriese bestendigheid te verseker en die verbeterings in OPOD te handhaaf. Hy dis noodsaaklik dat daar geen vakuum in die leierskap van ‘n strategiese oorsig-meganisme oor die SAPD is nie.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Tshwane-metroraad se begroting vir die 2025/2026-boekjaar is uit die staanspoor ontoereikend en die jongste wysigings vererger net die metro se finansiële druk. Die party sê daar is verskeie ernstige tekortkominge in die aansuiweringsbegroting. Grandi Theunissen van die VF Plus sê dit sluit Tshwane se finansiële plan in wat gebaseer is op ʼn onrealistiese verwagte invorderingskoers van 92-persent, wat die omvang van agterstallige skuld en die Ouditeur-generaal se waarskuwings ignoreer:
# Die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk het die EU-VK Mededinging Samewerkingsooreenkoms onderteken wat ‘n nuwe en duidelike raamwerk bied vir samewerking in sake waar meegeding word. Die ooreenkoms sal die uitruil van vertroulike inligting vergemaklik om beter ekonomiese bestendigheid en geregtelike sekerheid vir sakeondernemings te verseker. Die Europese Unie se uitvoerende vise-president vir Skoon, Regverdige en Mededingende Oorgang, Teresa Ribera, sê hierdie ooreenkoms versterk hul gedeelde verpligting tot regverdige en mededingende markte tot voordeel van verbruikers, sakeondernemings en vernuwing.
# Sokker: Die 15-malige wenners, Real Madrid, is deur na die Kampioeneliga se laaste 16 ná hul sege oor Benfica by die Bernabeu. Vinícius Júnior en Aurélien Tchouaméni se doele het Madrid gehelp om Benfica in die tweede deel se uitspeelronde met 2-1 te klop en met ʼn totaal van 3-1 te wen. Die verdedigende kampioen, Paris St-Germain, het die 10-man-span van Monaco met ʼn totaal van 5-4 gewen nadat hulle in die tweede deel se wedstryd met twee elk gelykop was. Atalanta en Galatasaray is ook deur na die laaste 16. Die trekking vir die ronde van 16 vind môre plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-84-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-588-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-192-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….