Nuus 08:00
BULLETIN 26 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Elf van die Suid-Afrikaanse mans wat na Rusland gelok is, keer terug huis toe
# Kuba se kuswag skiet vier mense op ‘n snelboot van Florida dood
# En krieket: Die Protea-vroue wen die eendagreeks teen Pakistan met een wedstryd oor
# Elf Suid-Afrikaanse mans wat na bewering bedrieg is om vir Russiese magte in Oekraïne te veg, het gisteraand in Durban aangekom. Hulle is deel van die groep van 17 mans wat onder vals voorwendsels na Moskou gelok is. Vier van hulle het verlede week huis toe gekom. Twee mans is nog in Rusland. Een is in die hospitaal en die ander een word nog geregtelik ondersoek voordat sy reisreëlings getref kan word. Die woordvoerder van die ANC in KwaZulu-Natal, Fanle Sibisi, het aan die SABC gesê hulle wil ondersoek ingestel hê na die werwing van die mans:
# Die GOOD-party sê vanjaar se begroting bied min verligting vir die armste mense in die land. Die party voer aan die maatskaplike noodtoelaag is herbenoem na ‘n lewensonderhoudstoelaag, maar teen 370-rand-per-maand bly die ontvangers onder die voedselarmoedegrens. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron doen ‘n beroep op ‘n betekenisvolle basiese inkomstetoelaag om ekonomiese geregtigheid, strukturele insluiting en geslagsgelykheid te bevorder:
# Ekurhuleni-burgemeester Nkosindiphile Xhakaza het weer sy burgemeesterskomitee geskommel nadat die EFF en ActionSA nie by sy administrasie wou aansluit nie. Die burgemeester het verlede week die koalisie se nuwe uitvoerende gesag aangekondig, waarin die ANC meer posisies gekry het, die EFF minder en ActionSA die eerste keer ingesluit is. Die drie nuwe burgemeesterskomiteelede is Nkgopotse Nsizwa Mekgwe, Siyabonga Mathews Moloi en Dora Mlambo wat almal ANC-lede is. Xhakaza sê hierdie aanstellings versterk die metro se bestuursvermoë deur seker te maak alle portefeuljes is volledig saamgestel, wat dienslewering sal versnel.
# Kuba se minister van Binnelandse Sake sê grenswagte het vier mense doodgemaak en ses gewond toe ‘n snelboot wat in Florida geregistreer is, in die land se water aangetref is. Een grenswag is in die skietery gewond. Spanning tussen Amerika en Kuba neem toe nadat Washington feitlik alle oliebesendings na die kommunisties-beheerde eiland blokkeer het. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê die nasionaliteite van die mense aan boord is nog nie bekend nie:
# Krieket: Die Protea-vroue het Pakistan met 16 lopies verslaan in die tweede eendagwedstryd in Centurion en loop met 2-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Die veelsydige Annerie Dercksen het 90 van 68 balle behaal en Suid-Afrika het 361 vir agt op die telbord geplaas. Dis die hoogste telling in die Protea-vroue se geskiedenis. Daarna het Ayesha Zafar 75 aangeteken, maar Dercksen het drie paaltjies platgetrek en Pakistan was op 345 almal uit. Die laaste eendagwedstryd vind Sondag in Durban plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-84-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-99-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-188-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….