Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die terugkoopkoers bly onveranderd
# Youth Capital sê internskappe kan die gaping tussen werkgewers en werksoekers oorbrug
# En, tennis: Aryna Sabalenka is ook ‘n ywerige supermotor-geesdriftige
# Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het besluit om die terugkoopkoers onveranderd te hou op 8,25-persent. Dit beteken handelsbanke se prima-uitleenkoers bly op 11,75-persent.
# Youth Capital glo openbare indiensnemingsprogramme en internskappe is oplossings om die gaping tussen onervare werksoekers en werkgewers te oorbrug. Dit stem ooreen met president Cyril Ramaphosa se oproep aan werkgewers om mense sonder werksondervinding in diens te neem. Die projekleier van Youth Capital, Kristal Duncan, het op Newzroom Afrika benadruk dat internskapprogramme geleenthede vir indiensneming bied wat kwessies met werkloosheid doeltreffend kan aanpak:
# Die nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, was vandag by die vernietiging van dwelms ter waarde van 90-miljoen-rand in Kaapstad. Daar is tydens operasies in die Wes- en die Oos-Kaap beslag gelê op die dwelms, insluitend tik, kokaïen en mandrax. Dit is die vierde dwelmvernietiging hierdie boekjaar, wat byna ‘n miljard-rand beloop. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê noemenswaardige sake sluit in die beslaglegging op mandrax ter waarde van tien-miljoen-rand in Vredenburg, wat tot vier inhegtenisnemings gelei het, en die vernietiging van tik ter waarde van 18-miljoen-rand in Beaufort-Wes:
# Die volksmoord-oorlewendesgroep, IBUKA, het die herwinning van 120 slagoffers se oorskot uit massagrafte in ‘n Rwandese dorpie bevestig. Die uitvoerende sekretaris, Naphthali Ahishakiye, sê vrywilligers het die oorskot opgegrawe nadat ‘n inwoner ‘n moontlike massagraf aangemeld het. Ondersoeke het verlede Oktober begin toe die oorskot tydens bouwerk gevind is. Meer as 100-duisend volksmoordslagoffers se oorskot is die afgelope vyf jaar in Rwanda opgespoor. Die volksmoord van 1994 het ongeveer een-miljoen sterftes tot gevolg gehad, meestal uit die Tutsi-gemeenskap, aan die hand van Hutu-ekstremiste.
# Tennis: Die wêreld nommer twee, Aryna Sabalenka van Belarus, het ook ‘n ander passie – sy is geesdriftig oor supermotors. Haar vloot sluit volgens berigte ʼn helderblou Lamborghini Aventador S Roadster ter waarde van 7,5-miljoen-rand in, met ʼn topsnelheid van 350-kilometer-per uur. Sy besit ook ʼn Mercedes-Benz G-klas van 4,3-miljoen-rand, en ‘n BMW wat haar ma bestuur. Sabalenka het onlangs gesê sy wil graag ʼn Porsche aanskaf. Sy het reeds prysgeld van altesaam 386-miljoen-rand gewen en sal dit dié week vermeerder nadat sy vandag vir die eindstryd van die Australiese Ope gekwalifiseer het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-840-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-16-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….