Nuus 16:00
BULLETIN 25 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê Suid-Afrika se skuld begin vir die eerste keer in 17-jaar bestendig raak
# AfriForum se uitvoerende hoof gaan voor die Khampepe-kommissie getuig
# En sokker: Fifa is nie bekommerd dat onrus in Mexiko die Wêreldbekertoernooi sal raak nie
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Suid-Afrika se skuld begin die eerste keer in 17-jaar bestendig raak, wat ‘n groot keerpunt in openbare finansies aandui. Hy het in sy begrotingsrede gesê regerings-hervormings en gedissiplineerde besteding het gehelp om die begrotingstekort te verminder en beleggersvertroue te herstel. Godongwana sê skuld sal na verwagting ‘n hoogtepunt van 78,9-persent van die bruto binnelandse produk bereik voor dit geleidelik sal afneem:
# AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, gaan getuig voor die Khampepe-kommissie wat beweerde politieke inmenging in apartheidsera-vervolgings ondersoek. AfriForum verteenwoordig Dirk van Eck, wie se vrou en twee kinders in 1985 in ‘n landmynaanval dood is. Die getuie Cilliers van der Merwe sal ook getuig oor die moord op sy pa, Jaap van der Merwe, naby die grens met Botswana in 1978. Niemand is vervolg nie, al was daar ‘n bekende verdagte. Sy liggaam is nooit gevind nie. Die organisasie vra geregtigheid en aanspreeklikheid.
# Die Wynbergse Streekhof in Kaapstad het Ayanda Dayi tot vier lewenslange vonnisse plus 102 jaar gevonnis vir die broodvragmotor-moorde in Delft in 2024. Hy is skuldig bevind aan die moord op Xolani Gaji, Cebisile Mfundiso, Eric Yaphi en Elvis Cwethiso tydens ‘n vlaag geweldsmisdaad wat roof en kaping behels het. Waarnemende regter Mandy van Leeve het Dayi beskryf as ‘n gevaar vir die samelewing wat geen berou getoon het nie. Owerhede sê die vonnis stuur ‘n sterk boodskap uit teen geweldsmisdaad.
# Die Maatskaplike Sekerheidsagentskap in Gauteng verwelkom die inhegtenisnemings van vier verdagtes, insluitend twee huidige amptenare en ‘n voormalige amptenaar, oor beweerde bedrog van 4,9-miljoen-rand met die goedkeuring van maatskaplike toelaes. Die polisie se provinsiale ondersoekeenheid het die vier aangekeer na ‘n gekoördineerde ondersoek met SASSA se Bedrog- en Nakomingseenheid. Woordvoerder Lungelo Mkhaba sê hulle sal in die Soshanguve-landdroshof in Tswhane verskyn, en het verklikkers gevra om oortredings aan te meld:
# Sokker: Die wêreldbeheerliggaam, Fifa, is nie bekommerd die huidige onrus in Mexiko sal ‘n invloed hê op die land se mede-aanbieding van vanjaar se Wêreldbekertoernooi nie. Geweld het losgebars nadat die Leër verlede naweek ‘n dwelmbaron doodgeskiet het, insluitend in een van die gasheerstede, Guadalajara. Inwoners en toeriste het gevlug terwyl kartel-lede paaie versper en voertuie en ondernemings aan die brand gesteek het. President Claudia Sheinbaum gee die versekering besoekers sal nie in gevaar wees nie, want die situasie is besig om te normaliseer. Die toernooi begin op 11 Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-745-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-186-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….