Nuus 11:00
BULLETIN 25 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die Lughawensmaatskappy moet in die Parlement rekenskap gee oor die vervalle infrastruktuur en mislukte stelsels
# Trump sê Iran sal nooit toegelaat word om kernwapens te hê nie
# En rugby: Rassie Erasmus sê die wedstryd teen die Barbarians is ideale voorbereiding vir die toetsseisoen
# Die EFF sê Suid-Afrika se belangrike vervoerinfrastruktuur word swak in stand gehou en is onvoorbereid op krisisse. Dit volg na gister se brand by die Kaapstadse Internasionale Lughawe wat tot groot ontwrigting gelei het. Die EFF sê die lughawe is ʼn nasionale sleutelpunt en ‘n strategiese bate noodsaaklik vir ekonomiese bedrywighede. Die party stel voor die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika se leierskap word na die Parlement ontbied om rekenskap te gee oor die verval van infrastruktuur, stelsel-mislukkings en lugreiskoste wat die hoogte ingeskiet het.
# Statistieke Suid-Afrika sê sowat 491-miljard-rand is in die 2024/2025-boekjaar aan onderwys bestee, wat ongeveer 21-persent van die nasionale begroting verteenwoordig. Volgens die organisasie se nuwe verslag het huishoudings ongeveer 43-miljard-rand aan onderwys bestee, meestal aan skoolgeld. Woordvoerder Seble Worku SA sê gesinne het ook aansienlike bykomende kostes gehad, insluitend meer as 27-miljard-rand vir skoolklere, boeke en voorrade, en meer as elf-miljard-rand vir vervoer:
Die Nelson Mandelabaai-Sakekamer waarsku intussen die Oos-Kaap beleef ‘n volskaalse arbeidsnoodtoestand. ‘n Opname deur Statistieke SA vir Oktober tot Desember 2025 toon nasionale werkloosheid het tot 31,4-persent gedaal, maar in die provinsie het dit met 5,9-punte tot 42,5-persent gestyg. Die uitvoerende hoof, Denise van Huyssteen, sê jeugwerkloosheid beloop ongeveer 54-persent, terwyl vervaardigings-werksgeleenthede nasionaal met 7,6-persent gedaal het. Sy beklemtoon dit vererger die druk op die provinsie se motorsektor, en vra dringende strukturele hervorming.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, beweer Iran is besig om missiele te ontwikkel wat sy land kan tref. Hy het sy staatsrede voor ‘n gesamentlike sitting van die Kongres gelewer en ‘n nuwe rekord opgestel vir die langste toespraak ooit van byna ‘n uur en 50 minute. Trump het herhaal dat hy ‘n diplomatieke ooreenkoms met Iran verkies, maar gesê Iran mag nooit ‘n kernwapen hê nie:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die kragmeting met die Barbarians in Gqeberha in Junie waarmee hulle hul toetsseisoen afskop, is die ideale geleentheid om spelers wedstryd-gereed te kry. Die wedstryd vind plaas twee weke voor die Bokke se eerste Nasieskampioenskap-kragmeting met Engeland op Ellispark in Johannesburg. Erasmus sê sy span sal fokus op strukture en wat hulle op die veld wil bereik. Hy sê hoe gouer hulle ʼn toets-ingesteldheid ontwikkel, hoe beter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-802-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-194-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….