Nuus 08:00
BULLETIN 25 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se begrotingsverwagtinge sluit in fiskale bestendigheid en strukturele hervorming
# Gwede Mantashe sê die Ekapa-mynoperasie is ingewikkeld en gevaarlik
# En Zelensky hoop Oekraïne kan teen 2027 by die EU aansluit
# Die ANC sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal vandag die nasionale begroting vir 2026 in die Parlement voorlê vanuit ‘n posisie van hernude ekonomiese momentum en toenemende vertroue. Die rand het verstewig namate inflasie afgeplat het, en die land se kredietgradering is vir die eerste keer in 16 jaar opwaards aangepas. Die ANC sê hy verwag die begroting sal fiskale bestendigheid verstewig, terwyl dit strukturele hervorming, inklusiewe groei, werkskepping en maatskaplike beskerming sal versnel. Hy sê hy bly verbind tot die bevordering van ‘n bekwame ontwikkelingstaat wat ‘n balans handhaaf tussen fiskale omsigtigheid en transformasie.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die bek-en-klouseer-taakspan verdedig te midde van ‘n ondersoek deur parlementslede oor sy mandaat en geheimhouding. Steenhuisen het voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Landbou gesê die span bestaan uit veeartsenykundige en wetenskaplike deskundiges wat tegniese radd gee om die regering se optrede te lei. Hy sê sensitiewe entstofinligting vereis vertroulikheid, en die span help die bestaande regeringstrukture en vervang dit nie:
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, beskryf die operasie om die liggame van vyf mynwerkers wat verlede Dinsdag in ‘n modderstorting by die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap vasgekeer is, as ingewikkeld en gevaarlik. Mantashe het aan ʼn gesamentlike sitting van parlementêre komitees gesê sedert die voorval plaasgevind het, is sowat ʼn duisend kubieke meter water uitgepomp in ʼn poging om toestande te stabiliseer sodat herwinningsoperasies kan voortgaan.
# President Volodymyr Zelensky sê lidmaatskap van die Europese Unie sal Oekraïne se toekomstige veiligheid waarborg nadat ʼn vredesooreenkoms onderteken is. Die EU oorweeg maniere om Kiëf minstens sommige lidmaatskap-voordele te gee voordat hy die talle ekonomiese, demokratiese en regshervormings wat vir volle toelating vereis word, ingestel het. Dit was gister vier jaar sedert Rusland se volskaalse inval in Oekraïne. Zelensky sê hy hoop sy land kan teen 2027 by die EU aansluit:
# Sokker: Banyana Banyana se laaste Groep A-wedstryd teen Lesotho in die COSAFA-vrouekampioenskap in Polokwane het met een elk gelykop geëindig. Die Suid-Afrikaners is met sewe punt steeds eerste in Groep A. Makhotso Moalusi het Lesotho se doel in die 30ste minuut aangeteken, maar Suid-Afrika het die telling in die 38ste minuut met Thorisho Mphelo se doel gelykop gemaak. In die tweede helfte het albei spanne hul kanse verspeel en die wedstryd het gelykop geëindig. Banyana Banyana kom Vrydag in die halfeindronde teen Zimbabwe te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-631-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-184-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-en-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….