Nuus 07:00
BULLETIN 25 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA dring aan op sterk ekonomiese hervormings voor die nasionale begroting
# Britse parlementslede steun die vrystelling van Andrew se handelsgesantlêers
# En gholf: Ernie Els lei ‘n sterk SA Ope-veld
# Build One South Africa doen ‘n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om ‘n nasionale begroting te lewer wat voorkeur gee aan ekonomiese groei, werkskepping en verligting vir sukkelende huishoudings. Die party stel ‘n fonds van 100-miljard-rand vir werksgeleenthede voor. Hy vra ook meer besteding aan infrastruktuur, onderwys en polisiëring, en die vermindering van regeringsvermorsing om openbare vertroue te herstel en werklike verandering teweeg te bring. Roger Solomons van BOSA sê die stygende lewenskoste, hoë skuldvlakke en stadige ekonomiese groei vereis dringende optrede:
Die IVP sê intussen hy verwag die begroting sal maatskaplike dienste, infrastruktuurbelegging en ondersteuning vir arm huishoudings prioritiseer. Die party doen ‘n beroep op verhoogde befondsing vir onderwys, gesondheidsorg en maatskaplike toelaes om kwesbare gemeenskappe te help om stygende lewenskoste die hoof te bied. Hulle vra ook sterker belegging in infrastruktuur om werk te skep, verbeterde dienslewering deur plaaslike regerings en meer hulpbronne, insluitend ondersteuning vir skuilings en polisie-eenhede, om geslagsgeweld te beveg.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede vra groter duidelikheid oor hoe die regering die reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord gaan befonds. Dit volg nadat dit as nasionale ramptoestand verklaar is. Suid-Afrika se vrouemoord-koers is nege per 100-duisend vroue, wat vyf keer meer is as die internasionale gemiddeld. Tussen Julie en September 2024 alleen is 957 vroue vermoor. Die komiteevoorsitter, Liezl van der Merwe, sê indien hierdie verklaring tot betekenisvolle verandering lei, moet dit gepaard gaan met die nodige finansiële verbintenis.
# AfriForum sê die Ngwathe-munisipaliteit in die Vrystaat beleef ‘n krisis. AfriForum beskuldig burgemeester Victoria de Beer-Mthombeni daarvan dat sy ‘n hofbevel ignoreer en nog ‘n appèl sonder die raad se goedkeuring beplan. Die burgerregte-organisasie sê die voortgesette regsappèlle vertraag aanspreeklikheid en mors die belastingbetaler se geld. Alta Pretorius van AfriForum beweer dienslewering in die gebied het versleg, en verwys na talle water- en kragonderbrekings in Parys, asook aanhoudende rioolstortings:
# Britse parlementslede het die vrystelling van lêers wat verband hou met Andrew Mountbatten-Windsor se aanstelling in 2001 as die Verenigde Koninkryk se handelsgesant, amptelik ondersteun. Die voormalige prins is verlede week gearresteer weens moontlike wangedrag in ‘n openbare amp. Hy word beskuldig dat hy tydens sy termyn as handelsgesant vertroulike staatsinligting met die veroordeelde seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein, gedeel het, maar hy ontken die bewerings. Die minister van Handel, Chris Bryant, striem Mountbatten-Windsor se arrogansie:
# Gholf: Die tweede oudste ope-gholfkompetisie, die Suid-Afrikaanse Ope, vind hierdie week vir die 115de keer plaas by die Stellenbosch Gholfklub. Die vyfmalige Major-kampioen, Ernie Els, sluit by die plaaslike spelers aan wat insluit Charl Schwartzel, die verdedigende kampioen Dylan Naidoo, en voormalige kampioene Dean Burmester, Daniel van Tonder en Branden Grace. Die Amerikaner Patrick Reed sal probeer om die derde keer te wen. Die wenner van vanjaar se SA Ope kry vrystelling vir die 2026 Meesters.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-26-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-185-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….