Nuus 14:00
BULLETIN 24 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit bekom ‘n hofbevel wat die instel van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering opskort
# Zelensky herdenk die begin van die oorlog met Rusland en beloof om aan te hou veg
# En krieket: Engeland en Pakistan pak mekaar vandag in die Super-agts van die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die Hooggeregshof in Pretoria het vandag gelas die instel van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering moet onmiddelik opgeskort word. Solidariteit het die aansoek ingedien. Woordvoerder Theuns du Buisson verwelkom die stap en sê die voorlopige opskorting sal van krag bly tot die Konstitusionele Hof uitspraak lewer oor die wet se ondertekening in 2024:
Cosatu se staatsdiensvakbonde sê intussen hulle wil sorg dat die uitvoerende gesag van staatsamptenare se mediese fonds, GEMS, tot misdadige direkteure verklaar word as strafmaatreël vir beweerde finansiële wanbestuur. GEMS het lede se bydrae met 9,8-persent verhoog. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê vakbonde begin vandag met plakkaatbetogings by GEMS se streekkantore, wat Donderdag ‘n hoogtepunt bereik met ʼn nasionale dag van optrede by die skema se hoofkantoor in Pretoria:
# Suid-Afrika se groot banke word in die hof uitgedaag oor die manier waarop teruggeneemde huise verkoop word. Huiseienaars voer aan wanneer hulle agterstallig raak met verbandbetalings, banke dikwels eiendomme verkoop teen pryse naby die uitstaande verbandbedrag, eerder as hul werklike markwaarde. Die saak, wat in Februarie 2020 begin het, word in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor. Die hof hoor tans betoë aan om te besluit of die saak aan die wetlike vereistes vir groepsgeding-sertifisering voldoen.
Nuus uit die buiteland:
# Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, beloof hy sal nie sy mense se opofferings tydens vier jaar van oorlog verraai net om vrede te maak met Rusland nie. Hy sê sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, het nie sy doelwitte bereik en nie die oorlog gewen nie. Daar is tans verdeeldheid tussen belangrike Europese nasies wat gehoop het om in te stem tot nuwe sanksies teen Rusland en ‘n lening van 1,7-duisend-miljard-rand aan Oekraïne. Hongarye, wat noue bande met Moskou het, weier egter om dit goed te keur.
# Krieket: Engeland en Pakistan pak mekaar vandag in Pallekele, Sri Lanka, in die Super-agt-ronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Die Wes-Indiese Eilande het Zimbabwe gister met 107 lopies verpletter nadat hulle 254 vir ses aangeteken het – die hoogste telling in die toernooi en die tweede hoogste in die geskiedenis van die T20-Wêreldbeker. Zimbabwe is daarna uitgeboul vir 147. Sri Lanka is môre gasheer vir Nieu-Seeland in Colombo. Die Proteas speel Donderdag in Ahmedabad, Indië, teen die Windies, terwyl Indië gasheer is vir Zimbabwe in Chennai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-275-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-174-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….