Nuus 12:00
BULLETIN 24 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA eis onmiddellike inhegtenisnemings ná die Spesiale Ondersoekeenheid korrupsie by Binnelandse Sake blootlê
# Brown Mogotsi is gereed om sy saak voor die parlementêre ad hoc-komitee te stel
# En Paralimpiese Spele: Oekraïnse atlete word aangemoedig om nie die Winterspele se openingseremonie te boikot nie
# ActionSA eis onmiddellike optrede na die Spesiale Ondersoekeenheid se bevindings teen die Departement van Binnelandse Sake. Die ondersoek het aan die lig gebring dat Suid-Afrika se immigrasiestelsel as ‘n markplek misbruik word, waar permitte en visums aan die hoogste bieër verkoop word. Lerato Ngobeni van ActionSA sê dis skokkend dat vier amptenare wat minder as 25-duisend-rand per maand verdien, volgens berigte meer as 16-miljoen-rand se onverklaarbare deposito’s ontvang het:
# Die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, sê hy is gereed om voor die Parlement se ad hoc-komitee te getuig. Hy verskyn vandag nadat hy aanvanklik geweier het weens veiligheidskwessies. Hy sal na verwagting getuig oor polisie-inmenging en sy bande met die misdaad-baasbrein, Vusimuzi “Cat” Matlala, sowel as die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde. Mogotsi sê hy respekteer die parlementêre prosesse en is gereed vir sy ondervraging:
# Die MK-party het ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om te verhoed dat die gewese Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, se pensioen en ander fooie uitbetaal word. Die MK-party eis ook dat die hof die besluit omkeer om haar regskoste by die Nkabinde-ondersoek te befonds. Die kommissie ondersoek die geskiktheid van die hoof van die Suid-Gautengse Vervolgingsgesag, Andrew Chauke, om die amp te beklee. Die MK-party sê hy is bekommerd oor Batohi se gedrag tydens die ondersoek en beweer dat sy willens en wetens vals of misleidende verklarings onder eed gemaak het.
# Die bekende onafhanklike Palestyns-Amerikaanse joernalis, Sam Husseini, waarsku dat Suid-Afrika strawwe ekonomiese vergelding van Amerika kan ondervind. Suid-Afrika wag op die uitslag van die volksmoordsaak teen Israel wat hy in 2023 by die Internasionale Geregshof ingedien het. Husseini het in ‘n lesing by die Universiteit van die Wes-Kaap gesê Suid-Afrika kan nog noodbevele van die hof bekom, maar het gewaarsku dat dit onmiddellike en langtermyn-gevolge vir die land kan inhou:
# Paralimpiese Spele: Die Internasionale Paralimpiese Komitee vra Oekraïnse atlete om nie die Winterspele se openingseremonie te boikot nie. Dit volg nadat die komitee sekere Russiese en Belarussiese atlete toegelaat het om onder hulle vlae en volksliedere aan die Spele deel te neem. Die Tsjeggiese Paralimpiese Komitee gaan ook die seremonie bokoit uit eendragtigheid met Oekraïne. Die internasionale komitee se president, Andrew Parsons, is bekommerd dat sulke situasies soms verpolitiseer word. Die Milano Cortina-Winterspele vind van 6 tot 15 Maart in Italië plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-214-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-171-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….