Nuus 07:00
BULLETIN 24 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika is bekommerd oor die aanval op multilateralisme
# Die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, dien sy geloofsbriewe in
# En Panyaza Lesufi sê hulle werk aan die wateruitdagings in die provinsie
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika se herverkiesing tot die Verenigde Nasies se Menseregteraad is bevestiging van vertroue in die land se leierskap wat wêreldwye menseregte betref. Hy het die 61ste sitting van die VN Menseregteraad in Genève, Switserland, toegespreek. Lamola sê Suid-Afrika is bekommerd oor die aanval op multilateralisme, die onvoorspelbare geopolitieke dinamika en die wegkalwing van ‘n reëls-gebaseerde internasionale orde:
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, het gister sy geloofsbriewe aan die Suid-Afrikaanse regering oorhandig en sy termyn amptelik begin. Bozell het sy geloofsbriewe aan die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se waarnemende hoof van staatsprotokol, Clayson Monyela, oorhandig. Tydens sy bevestiging in die Senaat in Oktober verlede jaar, het Bozell gesê hy sal druk plaas op Pretoria om sy volksmoordsaak teen Israel terug te trek. Die departement sê Bozell se aankoms is ʼn nuwe hoofstuk in die twee lande se jare lange vennootskap.
# AfriForum vra vir ‘n algehele samelewingsbenadering tot openbare veiligheid en moedig die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, aan om een van sy buurtwagpatrollies dop te hou. Die burgerregte-organisasie sê formele samewerking tussen die Polisie en gemeenskapstrukture is noodsaaklik om misdaad doeltreffend te bekamp. Jacques Broodryk van AfriForum sê samewerking versterk misdaadvoorkoming, verbeter die uitruil van inligting en bou vertroue tussen gemeenskappe en wetstoepassers:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het gisteraand tydens sy provinsiale rede by Nasrec die drie nasionale prioriteite wat in die mediumtermyn-ontwikkelingsplan vervat is, herbevestig. Dit handel oor inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping, bekamping van armoede en hoë lewenskoste, en die bou van ʼn bevoegde, etiese ontwikkelingstaat. Lesufi sê die provinsie se waterkrisis is nie omdat water nie beskikbaar is nie, maar die onderbrekings word veroorsaak deur vervalle infrastruktuur, lekplekke en hoë aanvraag tydens spitstye:
# ’n Agtienjarige van Maun in Botswana is deur die Maun Gewoonteregshof tot ses houe lyfstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die gebruik van beledigende taal op sosiale media. Letsema Sephute het voor die hof verskyn waar hy skuldig bevind is ingevolge die Strafwetboek. Die uitspraak stuur ‘n duidelike boodskap oor die regsgevolge van aanlyn gedrag wat as skadelik of beledigend in Botswana beskou word. Sephute se vonnisoplegging is een van die strenger strawwe wat die afgelope maande in Botswana vir sosialemedia-verwante oortredings opgelê is.
# Rugby: Die hoofafrigter van Ierland, Andy Farrell, beskryf die potensiaal in sy groep as “reusagtig” nadat hulle Engeland Saterdag in ‘n Sesnasies-wedstryd op Twickenham verniel het. Ierland het met 42-21 gewen nadat min ondersteuners en kenners hulle ‘n kans gegee het. Dit plaas hulle behoorlik terug in die wedloop om die Sesnasies-titel, nadat hulle in November teen Nieu-Seeland en Suid-Afrika verloor het, en vroeg die maand ook teen Frankryk. Farrell is ook tevrede met die vertoning van sy meer ervare spelers na vrae oor hulle gevra is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-510-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-167-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….