Nuus 17:00
BULLETIN 23 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU vra die regering om verligting vir armes en werkloses te vermeerder
# Die ekonoom, Duma Gqubule, waarsku regeringsbeleid verdubbel skuld
# En, Brown Mogotsi gaan voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig
# COSATU vra die regering en die Nasionale Tesourie om verligting vir die armes en werkloses te bring tydens die Nasionale Begrotingstoespraak Woensdag. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê die maatskaplike noodverligtingstoelaag moet in lyn gebring word met die voedsel-armoedegrens, en die Presidensiële Werkstimulusplan moet teen April tot een-miljoen jongmense uitgebrei word en tot twee-miljoen teen November:
# Die ekonoom Duma Gqubule kritiseer die regering se ekonomiese leierskap en beskryf die benadering daarvan as kleuterskool-ekonomie. Hy beskuldig owerhede dat hul die publiek mislei deur te beweer die ekonomie herstel en skuld is bestendig, terwyl die nasionale skuld in werklikheid verdubbel het. Gqubule waarsku swak leierskap en swak beleid veroorsaak finansiële onbestendigheid en ondermyn openbare vertroue, en beklemtoon die dringende behoefte aan geloofwaardige ekonomiese bestuur om vertroue te herstel:
# Die sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, sal na verwagting môre getuig voor die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van politieke inmenging en korrupsie binne die regstelsel ondersoek. Sy vroeëre weiering om sonder veiligheidsmaatreël te verskyn, het omstredenheid veroorsaak en dis steeds onduidelik of die maatreëls wat hy versoek het, ingestel is. KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het Mogotsi daarvan beskuldig dat hy inmeng met polisie-aangeleenthede. Mogotsi het voorheen voor die Madlanga-kommissie getuig.
# Die Amerikaanse Doeane- en Grensbeskermingsagentskap staak van môre af die invordering van tariewe wat opgelê is kragtens die Internasionale Wet op Noodekonomiese Magte. Dit val saam met president Donald Trump se instelling van ‘n nuwe wêreldwye tarief van 15-persent ingevolge ‘n ander wetlike gesag om dié te vervang wat Vrydag deur die Hooggeregshof tersyde gestel is. Dit beïnvloed geen ander tariewe wat deur Trump opgelê is nie, insluitend dié kragtens die artikels vir die Nasionale Veiligheidswet en die Wet op Onbillike Handelspraktyke. Vrydag se besluit beteken miljarde dollars in Tesourie-inkomste is onderhewig aan moontlike terugbetalings.
# Krieket: ‘n Besige tuisseisoen wag volgende somer op die Protea-mans, met wedstryde teen Australië, Bangladesj en Engeland. Suid-Afrika pak Australië in September in drie eendagwedstryde – in Durban, op die Wanderers en in Potchefstroom. Die heersende wêreldkampioen speel daarna drie toetse teen die Aussies in Oktober – in Durban, Gqeberha en Kaapstad. Bangladesj kom in November aan vir ‘n toer van al drie formate, gevolg deur ‘n eendagreeks teen Engeland in Januarie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-146-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-155-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….