Nuus 15:00
BULLETIN 23 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mugabe en Matonze se borgtogaansoeke is uitgestel ná vertragings met hul hofaankoms
# Die MK-party se gewese hoofsweep bedank as parlementslid
# En krieket: Zimbabwe en die Windies pak mekaar in die T20-Wêreldbeker se Super-agts
# Die Landdroshof in Alexandra, Johannesburg, het die seun van die voormalige Zimbabwiese president Robert Mugabe en sy medebeskuldigde se borgtogaansoeke tot volgende Dinsdag uitgestel. Bellarmine Mugabe en Tobias Matonze staan tereg op onder meer poging tot moord en regsverydeling nadat ‘n tuinier by Mugabe se huis in Hydepark geskiet is. ‘n Regsverteenwoordiger, Sinenhlanhla Mnguni, sê die vertraging is veroorsaak omdat die beskuldigdes na die Landdroshof in Randburg geneem is:
# Die geskorste adjunk nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, sê daar is nooit rooibokke by sy eiendom afgelewer nie. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig daar was reeds diere soos emoes en skape op sy eiendom toe hy dit nege jaar gelede gekoop het. Sibiya sê hy het self ‘n paar rooibokke by ‘n buurman gekoop. Hy sê geen diere is na hom gestuur nie en hy het alle diere self gekoop:
# Die voormalige hoofsweep van die MK-party, Colleen Makhubele, het bedank as Parlementslid en is nie meer ‘n lid van die party nie. Dit besluit volg te midde van interne ontwikkelings en sit die proses aan die gang om haar vakante setel in die Nasionale Vergadering te vul. Die party het Makhubele se bedanking bevestig en dankbaarheid uitgespreek vir haar diens. Besonderhede rakende die redes vir haar bedanking is nie bekend gemaak nie, maar die MK-party verklaar hy verseker ‘n vloei in parlementêre verteenwoordiging en voortgesette wetgewende werk.
Nuus uit die buiteland:
# Die regerende Werkersparty in Noord-Korea het Kim Jong-un herkies as sy algemene sekretaris, wat sy 15 jaar-lange bewind verleng en sy algehele greep op die mag onderstreep. Kim is opperleier sedert sy pa se dood in 2011. Hy het die kongres toegespreek en gesê sy party staan voor swaar en dringende geskiedkundige take soos ekonomiese herbouings en die bevordering van mense se lewenstandaard sowel as om alle gebiede van die staats- en maatskaplike lewe so gou moontlik te hervorm.
# Krieket: Die onoorwonne Zimbabwe en die Wes-Indiese Eilande pak mekaar vandag in Moembai, Indië, in die T20-Wêreldbekertoernooi se Super-agts. Zimbabwe het uit die groepsronde gekwalifiseer danksy oorwinnings oor Sri Lanka, Australië en Oman, terwyl die kragmeting met Ierland uitgereën het. Die Windies het Engeland, Skotland, Italië en Nepal verslaan. Daardie uitslae beteken egter niks in die Super-agts nie, want elke span begin sonder enige punte. Die voorste twee spanne in elk van die twee groepe dring deur na die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-329-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-151-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….