Nuus 13:00
BULLETIN 23 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya ontken kennis van breër ondersoeke na Matlala in die Tembisa-hospitaalskandaal
# Die MK-party sê die opskorting van die NGV is ‘n gevaarlike terugtrekking van gesondheidsorg-geregtigheid
# En rugby: Ierland skuif op na derde plek op die wêreldranglys nadat hy Engeland op Twickenham vermorsel
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris is voor die Madlanga-kommissie ondervra oor die toekenning van die Medicare24-polisietender aan die sakeman Vusimusi ”Cat” Matlala. Getuienisleier Adila Hassim Sibiya het gevra of hy geweet het van Matlala se beweerde korrupsie rondom die Tembisa-hospitaal en die moord op die verklikker Babita Deokaran. Sibiya ontken hy dra kennis van wyer ondersoeke en beweer hy is nie bekend met die Valke se ondersoeke nie:
# Die MK-party is bekommerd oor president Cyril Ramaphosa se besluit om die Nasionale Gesondheidsversekering terug te hou. Die president het die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering tydelik opgeskort tot die Konstitusionele Hof uitspraak lewer oor regsuitdagings daarteen. Die MK-party sê die besluit is ‘n politieke terugtrekking te midde van druk vanaf goed-toegeruste politieke en bedryfsbelange, insluitend dié wat met die DA en die Vryheidsfront Plus verband hou. Die party vra Ramaphosa om voort te gaan met die instel van die NGV om die belofte van gesondheidsorg vir almal te versterk.
# AfriForum het inligting ontvang dat ‘n nuwe mynbou-aansoek ingedien is vir ‘n ondergrondse steenkoolmyn op ‘n terrein van ongeveer vyfduisend-500 hektaar op die suidelike grens van die Krugerwildtuin. Die organisasie evalueer tans die proses en die moontlike omgewings-, maatskaplike en ekonomiese uitwerking. Lambert de Klerk van AfriForum sê Tenbosch Mining en die omgewingsmaatskappy wat by die vorige aansoek betrokke was, Kimopax Consulting, is ook by hierdie nuwe aansoek betrokke:
# Die DA sê die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het nou ‘n geleentheid om handelsbetrekkinge met Amerika te herbou, ‘n ooreenkoms te verseker en werksgeleenthede te beskerm. Die Amerikaanse Hooggeregshof het die wêreldwye ingrypende tariewe tersyde gestel wat president Donald Trump ingestel het ingevolge ‘n wet wat bedoel is vir nasionale noodgevalle. DA-woordvoerder Toby Chance sê dis ‘n welkome verligting vir Suid-Afrikaanse uitvoerders:
# Rugby: Die wêreldranglys het aansienlik verander na die naweek se Sesnasies-uitslae. Ierland het twee plekke opgeskuif na derde, na Suid-Afrika en Nieu-Seeland, nadat hulle Engeland 42-21 vermorsel het op Twickenham. Frankryk het een plek na vierde teruggesak ondanks hulle oorwinning van 33-8 oor Italië in Lille, terwyl Engeland nou vyfde is. Argentinië is steeds sesde terwyl Skotland van negende na sewende posisie opgeskuif het na hulle Wallis 26-23 verslaan het in Cardiff. Australië het een plek teruggesak na agtste, met Fidji negende en Italië tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-288-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-144-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….