Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het die verdedigende kampioen, Indië, in Ahmedabad met 76 lopies verslaan in hul eerste wedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi se Super Agt-fase. Die Proteas het herstel van 20 vir drie na vier boulbeurte tot 187 vir sewe danksy David Miller se 63. Indië het halfpad op 51 vir vyf gesteier en is uiteindelik vir net 111 uitgeboul nadat Marco Jansen vier paaltjies geneem. Suid-Afrika speel Woensdag teen die Wes-Indiese Eilande.
Die Protea-vroue loop intussen 1-0 voor in die reeks van drie eendagwedstryde teen Pakistan na hulle oorwinning van 37 lopies in Bloemfontein. Die wedstryd is tot 41 boulbeurte per span beperk nadat reën die begin met meer as twee uur vertraag het. Suné Luus se onoorwonne 93 en Sinalo Jafta se onoorwonne 57 het Suid-Afrika tot 260 vir ses geneem. Ayesha Zafar het daarna 81 bygedra terwyl Tumi Sekhukhune drie paaltjies platgetrek het om Pakistan vir 223 te help uitboul. Die tweede eendagwedstryd vind Woensdag in Centurion plaas.
# Rugby: Die wêreldranglys het aansienlik verander na die naweek se Sesnasies-uitslae. Ierland het twee plekke opgeskuif na derde, na Suid-Afrika en Nieu-Seeland, nadat hulle Engeland 42-21 vermorsel het op Twickenham. Frankryk het een plek na vierde teruggesak ondanks hulle oorwinning van 33-8 oor Italië in Lille, terwyl Engeland nou vyfde is. Argentinië is steeds sesde terwyl Skotland van negende na sewende posisie opgeskuif het na hulle Wallis 26-23 verslaan het in Cardiff. Australië het een plek teruggesak na agtste, met Fidji negende en Italië tiende.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis het die Keniaanse Ope in Nairobi met drie houe gewen vir sy eerste DP World-toertitel. Die 22-jarige, 195ste op die wêreldranglys, het in die laaste ronde agt onder, 62, aangeteken en op 25 onder geëindig. Die Amerikaner Davis Bryant was tweede en nog ‘n Suid-Afrikaner, Hennie du Plessis, derde. Jarvis sê dit was wonderlik om die eerste keer voor sy pa te wen:
# En, Olimpiese Spele: Die Olimpiese Winterspele het tot ‘n einde gekom, met Noorweë met die meeste medaljes, naamlik 41 – 18 goud, 12 silwer en 11 brons. Atlete van meer as 90 lande het oor 16 dae in Italië meegeding in 116 items. Amerika was tweede met 33 medaljes – 12 goud, insluitend ‘n eerste in 46 jaar vir die mans-yshokkiespan, 12 silwer en nege brons. Die gasheerland, Italië, was derde met 30 medaljes, met Duitsland en Japan vierde en vyfde. Suid-Afrika het geen medaljes gewen nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….