Nuus 07:00
BULLETIN 23 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê ‘n nasionale misdaadstrategie is nodig om misdaad in Suid-Afrika te pak
# Meer as 20 verdagtes is in hegtenis geneem vir beweerde tenderkorrupsie in Mpumalanga Onderwys
# En krieket: Die Protea-vroue behaal ‘n oortuigende oorwinning teen Pakistan in die eerste eendagwedstryd
# Die EFF sê die jongste misdaadstatistiek toon Suid-Afrika is steeds in ‘n diep en strukturele krisis van geweld, wetteloosheid en georganiseerde misdadigheid. Volgens die misdaadsyfers vir die 2025/2026-boekjaar se derde kwartaal het die moordsyfer met 8,7-persent gedaal terwyl poging tot moord met 2,5-persent toegeneem het. Die EFF sê massa-werkloosheid, ongelykheid, korrupsie en openbare dienste wat ineenstort skep gunstige toestande vir geweld. Hy sê ʼn omvattende nasionale misdaadstrategie wat die simptome sowel as die strukturele wortels van misdaad aanspreek, is nodig.
# COSATU koester hoë verwagtinge van die 2026/27-begroting wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, Woensdag in die Parlement sal voorlê. Die vakverbond sê dis noodsaaklik dat die begroting op die werkersklas se pyn reageer en die samelewing hoop gee. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê die begroting moet die hoë werkloosheidsyfer van 41,1-persent en swak ekonomiese groei van 1,4-persent takel:
# Die Valke in Mpumalanga het 27 verdagtes gearresteer in verband met beweerde tenderbedrog en korrupsie van 113-miljoen-rand wat met die provinsiale Onderwysdepartement verbind word. Die verdagtes sluit nege staatsamptenare, 14 diensverskaffers en vier privaat persone in. Die Valke het ʼn gekoördineerde teenkorrupsie-operasie uitgevoer in Mpumalanga, Gauteng, Limpopo en die Wes-Kaap. Mpumalanga se Valke-hoof, Nico Gerber, sê die operasie wat steeds voortgaan, het altesaam 41 geïdentifiseerde verdagtes in die visier:
# Die Gautengse provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid het skok, kommer en woede uitgespreek na die bekendmaking dat minstens 97 polisielede nasionaal beskuldig word van seksuele geweld of verkragting. Die komiteevoorsitter Bandile Masuku sê die inligting is onthul tydens ʼn vergadering met belanghebbers as deel van die komitee se ingrypingstudie wat die SAPD se nakoming van die Wet op Huishoudelike Geweld evalueer:
# Die Verenigde Koninkryk se Onderwysminister, Bridget Phillipson, sê die regering sluit geen moontlikheid uit in die ondersoek na Andrew Mountbatten-Windsor nie. Die 66-jarige voormalige prins is Donderdag gearresteer en elf ure lank ondervra ná bewerings dat hy sensitiewe inligting met wyle Jeffrey Epstein, ʼn veroordeelde seksoortreder, gedeel het tydens sy termyn as die Verenigde Koninkryk se handelsgesant. Hy ontken die bewerings. Phillipson sê die regering kan moontlik ʼn regter-geleide ondersoek instel na Mountbatten-Windsor se Epstein-bande, maar voeg by dis voortydig omdat ʼn polisie-ondersoek nog aan die gang is.
# Krieket: Die Protea-vroue loop met 1-0 voor in hul eendagreeks van drie wedstryde teen Pakistan na hulle oorwinning van 37 lopies Bloemfontein. Die wedstryd is tot 41 boulbeurte per span beperk nadat reën die aanvang met meer as twee ure vertraag het. Sune Luus se onoorwonne 93, en Sinalo Jafta se onoorwonne 57 het Suid-Afrika se telling tot 260 vir ses opgestoot. Daarna het Ayesha Zafar 81 behaal terwyl Tumi Sekhukhune drie paaltjies platgetrek het om Pakistan op 223 uit te boul. Die tweede eendagwedstryd vind Woensdag in Centurion plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-439-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-145-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….