Nuus 13:00
BULLETIN 22 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Steenhuisen sê bek-en-klouseer-entstof alleen sal nie die siekte uitwis nie
# ’n Kamera vind slegs water en modder terwyl die soektog na vyf Ekapa-mynwerkers voortgaan
# En Pakistan voer aanvalle uit op Afghanistan
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê entstowwe vir bek-en-klouseer alleen sal nie die siekte in die land uitwis nie. Hy sê daar bestaan kwarantynreëls, bewegingspermitte en biosekuriteitsmaatreëls om elke boer in die land te beskerm. Die minister sê diegene wat diere doelbewus onwettig verskuif, besmettings verberg en beperkings ignoreer, bedreig die hele sektor se herstel:
# Die landbou-organisasie TLU SA het president Cyril Ramaphosa gevra om die Landbousakekamer van Suid-Afrika se hoofekonoom, Wandile Sihlobo, se aanstelling as presidensiële gesant vir landbou, landelike ontwikkeling, grondhervorming en internasionale handel te verduidelik. Die organisasie se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê hulle is bekommerd omdat landbou-mag in die presidensie gesentraliseer word:
# Eskom sê sy dieselverbruik oor die afgelope week het twee-duisend-en-48 gigawatt-uur energie teen ‘n koste van 14,89-miljoen-rand aan die netwerk gelewer. Dit is gelykstaande aan ‘n lasfaktor van 0,433-persent. Woordvoerder Daphne Mokwena sê die totale dieseluitgawes vir die jaar tot dusver is nou 5,49-miljard-rand laer as in dieselfde tyd verlede jaar. Sy sê dit weerspieël aansienlike kostebesparings en voortgesette verbeterings in operasionele prestasie, gedryf deur Eskom se omkeer-inisiatiewe:
# Die Ekapa-diamantmyn se uitvoerende hoof, Jahn Hohne, het aan die media gesê slegs water en modder is ondergronds gevind terwyl die soektog voortgaan na vyf vasgekeerde mynwerkers in Kimberley, in die Noord-Kaap. Die werkers is Dinsdag 890 meter ondergronds vasgekeer. Hohne sê kameras wat laat sak is, kon geen leefbare toestande vind nie. Hy sê alle water moet uitgepomp word voordat modder en klippe uit die gebied verwyder kan word om die vasgekeerdes te bereik.
# Pakistan het oornag talle lugaanvalle in Afghanistan uitgevoer en die Taliban sê tientalle mense, insluitend vroue en kinders, is dood of gewond. Islamabad sê die teikens was sewe vermeende weermagkampe en skuilplekke naby die Pakistan-Afghanistan-grens. Afghanistan veroordeel die aanvalle en sê talle burgerlike huise en ‘n godsdiens-skool is getref. Die nuwe aanvalle kom nadat die twee lande in Oktober op ʼn skietstilstand ooreengekom het ná dodelike oorgrensaanvalle, maar aanvalle vind steeds plaas. Pakistan en Afghanistan deel ʼn bergagtige grens van twee-duisend-574 kilometer.
# Rugby: Ierland se afrigter, Andy Farrell, het sy span se veggees geloof nadat hulle Engeland gister met 42-21 vermorsel het, en prys hulle vordering sedert die teleurstellende begin van hul Sesnasies-veldtog. Skotland het intussen sokkies opgetrek en Wallis gister op die Principality-stadion in ʼn opwindende wedstryd met 26-23 geklop. Die Skotte het die grootste deel van die wedstryd lusteloos gespeel, maar in die 75ste minuut ʼn wendrie gedruk. Skotland sal in die eindronde van die toernooi teen die Iere in Dublin probeer om hul eerste Triple Crown sedert 1990 te buit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….