Nuus 09:00
BULLETIN 22 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA verwelkom die aankoms van bek-en-klouseer-entstofdosisse
# Minister Manamela berei TVET-kolleges voor vir ’n vaardigheidsontwikkelingstelsel
# En, president Ramaphosa stel ’n landbou- en grondgesant aan
# Die landbou-organisasie, TLU SA, verwelkom die aankoms van die eerste besending van een-miljoen bek-en-klouseer-entstofdosisse vanaf Biogénesis Bagó in Argentinië. Die organisasie sê boere moet nou die kwarantynmaatreëls, bewegingbeperkings en waarneming nakom om die uitbreking te bekamp. Bennie van Zyl van TLU SA beklemtoon dat die privaat sektor by die inentingsprogram betrokke moet raak omdat uitbrekings reg oor die land aangemeld word:
# Die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, sê Suid-Afrika herposisioneer tegniese en beroepsopleidingskolleges as die middelpunt van beroepsopleiding en ambagsontwikkeling. Manamela sê, tydens sy staatsrede het president Cyril Ramaphosa die regering opdrag gegee om ‘n dubbele opleidingsmodel in te stel. Dit sal onderwys met werkplekervaring integreer en die rol van TVET-kolleges as die belangrikste beroepsopleidingsinstansies versterk. Manamela sê hierdie riglyn word nou in werking gestel:
# Die DA is baie bekommerd oor die bevindinge van ‘n onlangse studie deur die Universiteit van die Vrystaat, dat skadelike endokrien-ontwrigtende chemikalieë teenwoordig is in bekende en algemeen gebruikte sanitêre produkte. Angel Khanyile van die DA sê die bevindinge is ‘n ernstige openbare gesondheidsprobleem wat dringende aandag vereis. Sy sê hulle vra vir ‘n dringende ondersoek deur die Nasionale Verbruikerskommissie na die nakoming van produkveiligheidsvoorskrifte:
# President Cyril Ramaphosa het Wandile Sihlobo as Presidensiële Gesant oor Landbou en Grond aangestel. Sihlobo is die hoofekonoom by die Landbousakekamer van Suid-Afrika en ‘n lid van die Presidensiële Ekonomiese Adviesraad. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa het Sihlobo as ‘n gesant aangestel in die lig van die belangrikheid van landbou in Suid-Afrika se ekonomiese groeipad, herhalende uitdagings en groeigeleenthede plaaslik en in die buiteland. Hy sê Sihlobo sal die Presidensie se prioriteite en doelwitte oor landbou, landelike ontwikkeling, grondhervorming en internasionale handel ondersteun.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê hy gaan die tydelike tarief op Amerikaanse invoere uit alle lande van tien- tot 15-persent verhoog. Dit is die maksimum vlak wat ingevolge die wet toegelaat word. Die stap volg nadat Trump Vrydag ‘n algemene tarief van tien-persent aangekondig het, na ‘n hofbeslissing dat die president sy gesag oorskry het, toe hy ‘n reeks hoër tariewe ingevolge ekonomiese noodwetgewing ingestel het. Handelskenners en kongrespersoneel is onseker of die Kongres die tariewe sal uitbrei. Onlangse meningsopnames het getoon al hoe meer Amerikaners blameer die heffings vir hoër pryse.
# Tennis: Jessica Pegula het haarself met ‘n vroeë verjaardaggeskenk bederf toe sy gister in die Dubai-eindstryd gemaklik met Elina Svitolina afgereken en haar vierde WTA 1000-kroon opgeraap het. Die vierde gekeurde Amerikaner het Svitolina ʼn kans op ʼn derde titel in die noordelike emiraat ontneem en haar wenrekord teen die Oekraïner tot 6-3 verbeter. Pegula, wat Dinsdag 32 word, het in haar afgelope sewe toernooie minstens die halfeindronde gehaal en in Dubai met haar tiende loopbaantitel weggestap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….